Voëldief nou self ‘gehok’
VANDERBIJLPARK. – Die verdagte vrou wat onlangs twee hokke met babavoëltjies by Pets Kingdon in die Pick n Pay-sentrum in Bedworthpark gesteel het, is in aanhouding nadat die polisie haar, sowel as die verlore voëltjies, verlede week opgespoor het. Ongelukkig was verskeie van die gesteelde voëltjies teen daardie tyd reeds dood. Vaalweekblad van 4 November …
VANDERBIJLPARK. – Die verdagte vrou wat onlangs twee hokke met babavoëltjies by Pets Kingdon in die Pick n Pay-sentrum in Bedworthpark gesteel het, is in aanhouding nadat die polisie haar, sowel as die verlore voëltjies, verlede week opgespoor het.
Ongelukkig was verskeie van die gesteelde voëltjies teen daardie tyd reeds dood.
Vaalweekblad van 4 November het berig dat die voëldief die vorige Sondag twee hout-en-glashokkies waarin 14 budjies en drie kokketiele was, by die winkel gesteel het. Die voorval is deur ‘n sekuriteitskamera op video vasgelê. Mev. Maria Jardine, eienaar van Pets Kingdom, sê haar man het dieselfde verdagte ‘n week later by ‘n koffiewinkel op die perseel raakgesien. Die verdagte vrou het in ‘n voertuig gevlug voordat die polisie haar in hegtenis kon neem, maar ‘n wakker werknemer van Pets Kingdom het die voertuig se registrasienommer neergeskryf.
Die polisie het dit opgevolg en vasgestel dat die motor by ‘n verhuringsonderneming by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg gehuur is. By nadere ondersoek is die huurder se adres vasgestel en die verdagte vrou gevind en gearresteer.
Die polisie het die verdagte saam met die voëltjies na Vanderbijlpark gebring, waar Maria die vermeende dief sowel as die voëltjies moes uitken.
Sewe van

die 14 budjies was al dood en van die drie babakokketiele was daar geen teken nie.
“Die oorlewende voëltjies was in ‘n haglike toestand. Hulle was baie maer en hul magies het skoon water gewerk. Hulle was natuurlik verskriklik uitgehonger en het mekaar se kroppies stukkend gebyt op soek na kos. Ons het dadelik vir hulle Avi-Plus gegee.
“Dit was hartverskeurend om te sien hoe almal teen die lepeltjie probeer opklim om gelyktydig te eet. Ek het hulle na ‘n veearts in Meyerton geneem en hulle maak nou goeie vordering. Enetjie het nog ‘n gat in sy kroppie maar ek sal dit gesond kry,” sê Maria.
‘n Klag van diefstal en dieremishandeling is teen die verdagte geopen. “Ek hoop sy sit lank agter tralies vir wat sy aan die voëltjies gedoen het,” sê Maria.




