CommunityLifestyleLocal newsNewsNewsBreaking News

Chaos en ontevredenheid oor skoleplasings duur voor

Die Gautengse departement van onderwys (GDO) gaan nou Engels en Afrikaans as taal van onderrig en leer in townshipskole instel, in ʼn poging om ongeplaaste leerders in dié provinsie te akkommodeer. Só lui ʼn verklaring deur die GDO Dinsdag. Hiervolgens sal die departement skole wat min inskrywings vir 2020 ontvang het, help om gekwalifiseerde onderwysers …

Die Gautengse departement van onderwys (GDO) gaan nou Engels en Afrikaans as taal van onderrig en leer in townshipskole instel, in ʼn poging om ongeplaaste leerders in dié provinsie te akkommodeer.

Só lui ʼn verklaring deur die GDO Dinsdag. Hiervolgens sal die departement skole wat min inskrywings vir 2020 ontvang het, help om gekwalifiseerde onderwysers aan te stel wat in Engels en Afrikaans kan skoolgee. Hierdie skole is meestal in townships geleë en sommiges het net 16 aansoeke ontvang vir gr. 1- of gr. 8-leerders om volgende jaar hier skool te gaan.

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan nou in ʼn brief aan die Gautengse premier eis dat die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, bedank. “Ons gaan ook strafregtelike klagte indien weens korrupsie en wanbesteding binne die GDO onder leiding van Lesufi,” sê Carien Bloem, AfriForum se koördineerder van onderwys. Verskeie ouers en skole dreig boonop met regsoptrede omdat die departement nie leerders korrek plaas volgens die aansoeke nie.

Die departement moet nog 14 600 leerders wat suksesvol in Mei aansoek gedoen het op die departement se aanlyn platform, plaas.

“Die GDO werk ook nou saam met skole in hoëdrukgebiede om hul klaskamerkapasiteit uit te brei om ongeplaaste leerders te akkommodeer,” lui die departement se verklaring. “Ons het ook etlike skole geïdentifiseer aan wie ons mobiele klaskamers sal verskaf en gaan met onafhanklike skole saamwerk om van die oortollige leerders in openbare skole oor te neem.”

Luidens die verklaring het die departement ook bepaalde onderbevolkte enkelmediumskole geïdentifiseer wat sal saamsmelt om nuwe Engelse skole in gebiede te vestig wat oormatig baie aansoeke ontvang het. Die departement het teen Dinsdag 94% (267 000) van leerders in skole geplaas. Die oorblywende 14 617 leerders moet teen die einde van November almal geplaas wees.

Melanie Buys, hoof van opleiding aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê die departement se planne is “onsinnig”. “Skole kan nie sommer net saamsmelt nie. Dit help ook nie om skole wat reeds tot oorlopens toe vol is net voller te prop nie.”

Sy sê die SOS is bewus van skole wat regstappe doen omdat die departement nie leerders wat by die betrokke skool aansoek gedoen het, hier geplaas het nie. Dít terwyl die skool plek het vir dié leerders. In stede hiervan het die departement ander leerders, wat verder van die skool woon en later aansoek gedoen het by die skool as ander ouers, by dié skole geplaas.

“Verskeie ouers het ook reeds dispute met die departement verklaar omdat hul kinders in skole geplaas is wat baie ver van hul woonadres is, terwyl die skool die naaste aan hulle aangedui het dat hulle die betrokke leerder kan inneem,” sê Buys.

Sy het skole en ouers wat ontevrede is met die plasings aangeraai om onmiddellik die SOS te nader en ʼn dispuut met die departement te verklaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button