Coram Deo plaas student ‘Op Die Map’
Coram Deo Familie, ‘n instansie wat Christelike leiding en ondersteuning aan alle belangstellendes bied, het vanjaar hul eerste Sit My Op Die Map Gospelkompetisie aangebied waarvoor deelnemers vanuit die hele Vaaldriehoek en omstreke en selfs van so ver as Springs, ingeskryf het.
Hierdie inisiatief is geloods om mense wat daarvan droom om eendag ‘n Gospel-ster te word, die geleentheid te bied om hul talente met ander te deel.
Anje-Lené Verster, ‘n 23-jarige student, is gekroon as 2019 se Sit My Op Die Map-wenner. Sy het nie net ‘n kontantprys van R5 000 ontvang nie,
maar kry ook die geleentheid om in ‘n voorprogram vir die bekende Gospelsanger, Rudi Muller, op te tree. Sy gaan ook bygestaan word om haar eie
musiekvideo te laat opneem. Anje-Lené het vanjaar aan haar heel eerste sangkompetisie deelgeneem. “Ek dink dis ‘n voorreg. My nommer een droom is om vir die Here te sing,” sê sy. Sy vertel ook dat sy ‘n lid van die Noordwes-Universiteit se universiteitskoor is en dat sy van plan is om haar prysgeld te gebruik met hul buitelandse toer. “Coram Deo Familie beplan om hierdie kompetisie ‘n jaarlikse instelling te maak en hoop om nog baie opkomende sangers te help om hul droom te bereik,” sê Pieter van Wyk, wat by die oraganisering van vanjaar se wedstryd betrokke was.



