Een ontvoerder vertroos ‘n ander in hof
VANDERBIJLPARK. - Die enigste beskuldigde in die opspraakwekkende Amy’Leigh-ontvoeringsaak aan wie borgtog toegestaan is, Laetitia Nel (40), het Woensdag 13 Oktober haar mede-beskuldigde, Tharina Human (27), met ’n sneesdoekie uitgehelp toe laasgenoemde die trane nie meer kon terughou nie.
Tharina Human (27), Pieter van Zyl (50), Laetitia Nel (40) en Bofokeng Molemohi (24) het verlede week weer vlugtig op aanklagte van ontvoering en
afpersing in die streekhof in Vanderbijlpark verskyn. Hulle het in September vanjaar die sesjarige Amy’Leigh de Jager by haar skool, Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark, ontvoer en ’n losprys vir haar vrylating geëis.
Die staat het vroeër aangevoer dat Human, wat vriende met Amy’Leigh se ma, Angeline de Jager (26) was, die meesterbrein agter die hele ontvoering was. Nel het tydens die hofverrigtinge ‘n sneusdoekie in Human se hand geplaas nadat sy begin snik het.
Human kon egter nie die trane terughou nie en het later in trane uitgebars, kort voordat sy na die hofselle teruggeneem is.
Nel is die enigste van die vier beskuldigdes aan wie borgtog toegestaan is. Anders as Human en Van Zyl pleit sy skuldig op die aanklagte en het sy
glo ’n verklaring afgelê waarin sy haar aandeel in die ontvoering verduidelik.
Human en Van Zyl se aansoeke om borgtog is deur landdros Hussain Khota geweier en Molemohi het sy aansoek om borgtog laat vaar.
Die staatsaanklaer, adv. Luanda Ngcobo, het landdros Khota Woensdag vir uitstel gevra tot 9 Januarie volgende jaar, omdat daar nog vir uitstaande
DNS-uitslae gewag word. Ngcobo het aan Khota gesê sy hoop dat die verhoor in Februarie in die hooggeregshof kan begin, maar die staat benodig die uitstaande DNS-uitslae voor hulle vir ‘n verhoordatum in die hooggeregshof kan aansoek doen.
* Angeline de Jager het na afloop van hofverigtinge aan die media gesê dat dit sleg gaan met Amy’Leigh.



