Verskeie inwoners van Leeuhof het Vaalweekblad die afgelope naweek geskakel om te sê hulle kan die stank, veral in die omgewing van Kudulaan, nie uithou nie en dat hulle vir die naweek elders by familie sou moes tuisgaan. Mev. Ilse Botha, wat reeds byna drie dekades in Leeuhof woon en voorheen die gemeenskapsentrum bestuur het, sê dit was ‘n ernstige gesondheidsituasie en het die munisipale gesondheidsafdeling ingeroep om dringende aandag aan die probleem te kom gee.
Me. Belinda Kriel van die ANC het ook betrokke geraak en gereël dat die beskadigde pyp oor die naweek herstel word. Hoewel dit nie meer lek nie en die rioolwater in die strate en sypaadjies nou opgedroog het, is daar steeds ‘n ondraaglike stank, rapporteer inwoners. Verskeie inwoners van subekonomiese huise in die gebied het ook steeds te kampe met rioolwater wat in hul dreine opstoot en deur hul erwe spoel. In sommige gevalle begin die rioolwater al deur huise se mure en vloere sypel. Hulle hoop dat dié probleem, wat reeds sowat ses maande duur, ook binnekort opgelos sal word.
Volgens mev. Botha het ‘n gesondheidsbeampte onderneem om die probleem later hierdie week behoorlik te ondersoek sodat dringende aandag ook aan dié probleem gegee kan word.




