NewsNews

Hart eis bekende regsman Chris de Wet

VANDERBIJLPARK. - Een van die Vaaldriehoek se bekendste prokureurs, mnr. Chris de Wet (72), het verlede week onverwags aan ‘n hartaanval gesterf. Mnr. De Wet, wat in 1974 by die praktyk De Klerk, Vermaak en Vennote in Vereeniging aangesluit het, het sowat 45 jaar in die Vaaldriehoek gepraktiseer en was ook ‘n bekende oudvoorsitter van die destydse Vanderbijlpark-Sakekamer.

Argiefberig uit Vaalweekblad van 27 November 2019

Volgens sy vrou, Adrie, het hulle Donderdagaand omstreeks 21:00 ingekruip. Sy het nog ‘n rukkie gelê en lees en skielik gehoor dat Chris moeilik
asemhaal. Sy het met hom probeer praat en wou hom laat regop sit, maar hy het nie gereageer nie. Sy kon dadelik sien daar was groot fout en het die hulp van hul dokterbure, drs. Johan Snyman en Daan Humphries, ingeroep. Hartmassering is onmiddellik toegepas, maar daar was nie weer ‘n hartklop nie.
Hoewel Chris 17 jaar gelede ‘n hartomleiding ondergaan het, het hy ten tyde van sy dood nie gesondheidsprobleme gehad nie. Chris is in Klerksdorp gebore en het in Lichtenburg grootgeword en gematrikuleer, waarna hy sy regskwalifikasie deur Unisa behaal het. Hy het sy klerkskap by Arrie Oberholzer en Vennote in Lichtenburg gedoen en het onder andere ook as aanklaer in Wolmaransstad en Klerksdorp gewerk.
Hy en Adrie is in 1973 getroud en het in 1974 na Vereeniging verhuis, waar hy by De Klerk, Vermaak en Vennote aangesluit en onder andere saam met die latere staatspresident, FW de Klerk, gewerk het. As latere vennoot in die regspraktyk het Chris die Vanderbijlparkkantoor omstreeks 1978 geopen.
Van sy destydse personeel is tot vandag toe in diens en baie van daardie jare se kliënte word ook tot vandag nog deur die praktyk bedien. Gedurende die tagtigerjare het Chris gereeld in die bestuur en verskeie jare as voorsitter van die destydse Vanderbijlpark- Sakekamer gedien. Een van sy jarelange sakekamervriende, mnr. Gerrit Meyer, sê Chris se vriendskap met sy kliënte het so sterk gegroei omdat hy opreg in elkeen se persoonlike omstandighede belanggestel het. Gerrit sal hom ook onthou vir sy groot liefde vir sy beeste, wat hy met toewyding versorg het.
Chris het graag gelees, fiksie sowel as nie-fiksie, en het ‘n wye algemene kennis gehad. Hoewel hy in sy werk hoofsaaklik op akte en kontrakte toegespits het, het hy algemene wetgewing op die punte van sy vingers geken en Vaalweekblad se redaksiespan gereeld raad gegee wanneer
ons op kort kennisgewing ‘n verduideliking nodig gehad vir beriggewing.
Sy gesin sal hom egter veral onthou vir sy passie vir mense. “Hy was lief vir mense en het graag gegee, maar nie om gesien te word nie. Sy hart was absoluut oop vir ander,” sê Adrie. Chris het gereeld sy bakkie vol groente en vleis gelaai en dit gaan aflewer by plekke waar daar geldelike nood was.
“Chris was ‘n goeie man vir my en ‘n goeie pa vir ons kinders. Ek gaan my maatjie baie mis,” sê Adrie.
Hy word ook oorleef deur hul drie dogters, Amanda (43), Karien (39) en Renata (33), skoonseuns en vyf kleinkinders.

* Die troosdiens word Donderdag, 28 November, om 11:00 by die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid gehou.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button