EntertainmentLocal newsNews

As ‘Ouma’ Diane sing, vergeet sy die wêreld!

Diane James, wat gereeld by geleenthede in die Vaaldriehoek optree, se CD, Country Memories, is onlangs vrygestel

 

VANDERBIJLPARK. – Dit sit nie in elke ouma se skoene om ‘n CD uit te bring nie, maar as jou naam Diane James is en jy van kleins af niks anders wou doen as sing nie, kom dit maklik. Boonop het haar petite voetjies in haar piepklein nommer 1-skoene nog nooit gehuiwer om berge te klim wanneer hulle moes nie!

Diane, ma van vier kinders en ouma van drie kleinkinders, is in Oos-Londen gebore, maar woon al sedert 1984 in die Vaaldriehoek. Sy het eers in 2011 ernstig begin sing en word gereeld gehoor by welsynsfunksies.

“Dit is vir my lekker om te sing as ek weet die geldjies wat ingesamel word, gaan aan iemand wat siek of behoeftig is. Ek is ‘n omgeemens en baie lief vir kinders,” sê Diane, wat tans as finansiële klerk by ‘n toevlugsoord in Vanderbijlpark werk – en sy geniet elke oomblik daarvan.

“Sommige mense sê my stem klink soos die van Barbara Ray as ek sing. Ander sê weer ek klink soos Dolly Parton. Toevallig hou ek daarvan om hulle twee se liedjies te sing. Ek sing graag ‘golden oldie’ Country-liedjies soos Just because I’m a woman, I don’t wanna play house en Who’s gonna tie my shoes. Ek sing ook graag Charlie Pride-liedjies.”

Haar CD, Country Memories, wat onlangs vrygestel is, bevat dié nommers sowel as verskeie ander bekende liedjies soos Jolene, Let me be There en Kiss an angel good morning. Diane sê wanneer sy sing, is sy in ‘n ander wêreld. “Musiek laat my ontspan,” sê sy.

* Belangstellendes wat Diane se CD wil bestel of haar vir ‘n optrede wil bespreek, kan haar by 071 163 5419 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button