Laerskool DF Malherbe neem afskeid van skoolhoof Ben Stander
Na ‘n geseënde onderwysloopbaan van 37 jaar tree hy nou af en wag daar ‘n nuwe hoofstuk in die lewe van dié toegewyde onderwysman.
VANDERBIJLPARK. – Op Woensdag 4 Desember, het mnr. Ben Stander vir die laaste keer die terrein van die Laerskool DF Malherbe as skoolhoof binnegery.
Na ‘n geseënde onderwysloopbaan van 37 jaar tree hy nou af en wag daar ‘n nuwe hoofstuk in die lewe van dié toegewyde onderwysman.
Mnr. Stander se onderwysloopbaan het op 1 Januarie 1983 begin nadat hy sy studies aan die Onderwyskollege in Potchefstroom, en sy nagraadse studies aan die Noordwes-Universiteit voltooi het. Hy het sy eerste pos by die Laerskool Handhawer in Vereeniging aanvaar, waar hy in 1995 as adjunkhoof aangestel is.
Hy het op 1 April 1998 as hoof by die Laerskool DF Malherbe in Vanderbijlpark aangesluit, waar sy bekende woorde: “Wees die beste jy wat jy kan wees”, vir menige leerlinge, ouers en personeel ‘n lig op hul pad was.Sy aftrede is die einde van ‘n era, veral vir personeellede soos mev. Connie Verlinden, mnr. Conrad Scheepers, mev. Ena Dannhauser en mev. Susan Bosch, wat almal sedert mnr. Stander se beginjare as hoof saam met hom gewerk het.
“Mnr. Stander se afskeidswoorde aan die personeel van DF Malherbe het ‘n traan in die oog van baie gelaat. Soos elkeen van die kinders, ouers en personeel wat diep voetspore in sy hart getrap het, het hy in die byna 22 jaar wat hy hoof was, met sy menswees, omgee, deernis en sagte hart ook vir
hulle ‘n nalatenskap gegee om vir altyd te onthou en na te streef,” sê sy personeel in ‘n mediaverklaring.
Mnr. Stander het deur die jare ‘n aktiewe rol in die Vaaldriehoek se gemeenskapslewe sowel as op sportgebied gespeel. Hy was onder meer ‘n lid van die NWU Vaal se Alumni- advieskomitee, sekretaris van Vanderbijlpark-laerskole se rugbyvereniging, sekretaris van die Valke-laerskole, sekretaris van die PIC o.13-rugbyweek (Nashuaweek) en het ook verskeie laerskool- Cravenweke bygewoon.
Mnr. Stander het in die Vaaldriehoek grootgeword en dis ook hier waar hy sy aftrede saam met sy vrou, Alda gaan geniet. Daar wag ook baie kuiers in die Bosveld en langs die viswaters saam met hul twee getroude kinders, Alicia en Viviers.
“Ons wens mnr. Stander ‘n wonderlike aftrede toe. Wees verseker dat jy diep spore in die Vaaldriehoek getrap het,” is sy personeel se afskeidsboodskap.
Foto: Mnr. Ben Stander.





