NationalNews

Gestremde sangertjie sterf: Só gaan ons Keagan onthou

Kyk weer na Keagen en Manie Jackson se hartroerende video uit 2016

 

VANDERBIJLPARK. – Die gestremde sangertjie, Keagan Rossouw (11), wat die afgelope jare landwyd in mense se harte ingekruip het, is verlede week onverwags oorlede. Dit was nadat hy op Woensdag, 11 Desember 2019, van ‘n maagprobleem gekla het en in die hospitaal opgeneem is.
Die hartseernuus oor sy dood is Vrydagoggend, 13 Desember, deur die sanger Manie Jackson op sy eie Facebookblad in die volgende plasing bekendgemaak:

“More mense. My hart is stukkend om hierdie aankondiging te maak. Klein Keagan Rossouw, my maatjie, is vanoggend oorlede op 11 jarige ouderdom. Sy pa het ons 04:20 vanoggend geskakel met die slegte nuus. Ek het toestemming ontvang om dit bekend te maak. Baie sterkte aan sy ouers, sy sussie en ook die familie en vriende. Dankie my Seun, dat jy deel was van my lewe.”

Keagan het aan ‘n oorerflike toestand, Fanconi Anemia, gely, wat hoofsaaklik die beenmurg en produksie van rooibloedselle affekteer. Die toestand lei gewoonlik ook tot gehoorprobleme en doofheid, wat Keagan se musiektalent soveel meer uitsonderlik gemaak het.

Vaalweekblad se personeel dink vandag weer terug aan daardie aand in November 2016, toe Keagan by Sharky Town in Vanderbijlpark opgetree het, waar ‘n video geneem is wat hom landwyd bemind gemaak het. Wat Keagan daardie aand voor sy optrede nog nie geweet het nie, was dat Sharky Town op kort kennisgewing in die geheim gereël het dat Keagan se groot held, Manie Jackson, die jong sangertjie op die verhoog sou kom verras terwyl hy “Die Hemel Weet” sing.

Die video wat daarvan geneem is, het in die daaropvolgende dae soos ‘n veldbrand versprei en is duisende kere deur Facebook-lesers gedeel.

Om dié talentvolle knapie se dood te verwerk, gaan moeilik vir die Rossouw-gesin wees, maar Pa Steph sê hy glo dat Keagan nou die geleentheid gaan kry om saam met al die sanglegendes soos Gé Korsten en Bles Bridges in die Hemel te sing.

Lees Vaalweekblad se destydse berig (in November 2016) hier onder en kyk weer die video wat ons almal se harte aangegryp het.

Retha Fitchat

VANDERBIJLPARK. – ‘n Video wat op 19 November 2016 by Sharky Town, ‘n bekende kuierplek in die Vaaldriehoek, geneem is, is besig om opslae op Facebook en You Tube te maak. Die video begin met ‘n gestremde seuntjie wat Manie Jackson se groot treffer, Die Hemel Weet, heel oulik en nootvas sing.
Die volgende oomblik stap Manie self op die verhoog en begin saamsing. Die seuntjie het dit duidelik nie verwag nie. Die uitdrukking op sy gesiggie is kostelik. Hy gryp Manie om die nek en saam sing hulle dié trefferliedjie dan verder.
Binne 21 uur nadat die video op YouTube gelaai is, is dit reeds meer as 140 000 keer gekyk.

“Ek het nou seker al 10 keer daarna gekyk en elke keer huil ek van vooraf van lekkerkry,” skryf ‘n Vaalweekbladleser. Hiermee verwoord sy seker menige leser se gevoel.

Marius de Vos, bekende omroeper van IFM 102.2, vertel hoe dit gebeur het dat dié goue oomblik op video vasgelê is: “Keagan Rossouw, ‘n gehoorgestremde seuntjie, sou die aand saam met ander sangers by Sharky Town optree. Toe ek en Ben (Manie se klankman) vooraf buite staan en gesels, kom ons op die idee van hoe nice dit sal wees as Manie vir Keagan kan kom groet, en dan sal ons hom probeer ompraat om, terwyl Keagan Die Hemel Weet sing, uit die bloute te voorskyn te kom en saam met hom te begin sing… natuurlik sonder dat Keagan vooraf daarvan moes weet.

“Manie het ‘n hele paar shows en besige paar dae agter die rug gehad, maar ek vat toe tog die kans en bel hom. Hy was al in die kooi van moegheid, maar het dadelik ingestem om net daar klaar te maak en Sharky Town toe te kom. Die res is nou geskiedenis en die video wat die goue oomblik vasgevang het, se views skiet die hoogte in!”

Marius sê hy vertel die verhaal want Manie, wat in die Vaaldriehoek woon, is so ‘n nederige mens dat jy niks daarvan uit sy eie mond sal hoor nie.

Klein Keagan (toe 8) is duidelik sy ouers, Steph en Chantel Rossouw van Rustenburg, se trots. Steph het hierdie week aan Vaalweekblad vertel dat Keagan en sy sussie, Kiara (12) met Fanconi Anemia gebore is. Dit is ‘n oorerflike toestand wat onder andere kan veroorsaak dat ‘n lyer se gehoorkanale heeltemal toe is en dus doofheid tot gevolg het, maar die gedeelte in die brein wat klank kan registreer, funksioneer wel. Danksy ‘n gehoorapparaatjie wat klank deur sy skedel na die koglea herlei, kan Keagan wel ‘bioniese klanke’ hoor. “Hy is verskriklik lief vir musiek en is baie nootvas,” sê sy pa.

Keagan, wat die afgelope tyd gereeld optree, is in graad 2 in ‘n privaatskool, die Rustenburg Christelike Akademie. Hy kry sangafrigting by Elzabi Beuk, wat hom tydens optredes bystaan omdat hy nie bas kan hoor nie en ook nie die musiek kan hoor terwyl hy self sing nie.

“Ek kan nie onthou of ek hom al ooit so opgewonde gesien het soos daai aand by Sharky Town nie. Hy maak ons so bitter trots,” sê Steph.

Keagan het in September (2016) ‘n sangkompetisie van All-Time Radio gewen. Die prys het 12 liedjies met melodieë ingesluit wat vir hom geskryf en opgeneem is.

* Vaalweekblad se innige meegevoel aan Steph, Chantel, Kiara en al Keagan se familie en vriende.

Kyk en luister na die video hier:

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button