Parys pronk met positiewe gesindheid
PARYS. – Die klein plattelandes dorp het ‘n groot hart en het dit onlangs lewensgroot ten toon gestel met die indrukwekkende muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek so reg by die dorp se ingang. Inwoners het reeds ‘n paar weke gelede opgemerk hoe daar hard gewerk en geverf is. Nou is dit klaar en word inwoners …
PARYS. – Die klein plattelandes dorp het ‘n groot hart en het dit onlangs lewensgroot ten toon gestel met die indrukwekkende muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek so reg by die dorp se ingang.
Inwoners het reeds ‘n paar weke gelede opgemerk hoe daar hard gewerk en geverf is. Nou is dit klaar en word inwoners en besoekers daagliks met ‘n positiewe boodskap begroet. Dit het ook die oog van die #ImStaying Facebookgroep gevang en is onlangs daar opgelaai deur Isaak Makokwane wat die dorp besoek het.
Die foto en boodskap wat hy op die groep gedeel het, het intussen sowat 4 000 “likes” en amper 30 “shares”geniet.
Die muurskildery vir die #ImStaying Parys-projek is die idee van kunstenaar Deon Terblanche. Hy wou daardeur wys dat baie Parysenaars ook die #ImStaying inisiatief ondersteun en eerder die positiewe wil uitlig as om oor die negatiewe te kla.
“Ek hoop dat die muur inwoners elke dag sal aanspoor om positief te wees en aan besoekers die boodskap oordra dat ons dorp positief is, en graag wil saamwerk om ’n beter Suid-Afrika te skep,” verduidelik Deon.
Daar is baie moeite gedoen om die plan deur te voer. Die muur moes eers gepleister en met ‘n onderlaag behandel word.
Twee kante van die gebou is daarna gebruik. Die muurskildery aan die sykant beeld drie kinders uit wat opkyk na passasiersvliegtuie wat die land verlaat. Op die voorkant pronk #ImStaying.
* Om ‘n positiewe gesindheid te kweek en hoop om verbetering te ondersteun is die rede waarom Jarrette Petzer met die Facebook-groep #ImStaying begin het. Die landwye groep het binne ’n maand meer as 400 000 lede gewerf en groei steeds.



