Dis jou plig! Sorg dat jou diere veilig is!
Dat dit vir sommige mense nou lekker is om na die gedoef … doef … en nog ‘n doef van klappers te luister gaan my eie verstand te bowe, maar dit is hoe dit is. Ongelukkig is dit nie net baie irriterend vir sommige mense nie, maar ook baie vreesaanjaend vir diere. Ons almal weet …
Dat dit vir sommige mense nou lekker is om na die gedoef … doef … en nog ‘n doef van klappers te luister gaan my eie verstand te bowe, maar dit is hoe dit is. Ongelukkig is dit nie net baie irriterend vir sommige mense nie, maar ook baie vreesaanjaend vir diere.
Ons almal weet teen hierdie tyd dat vuurwerke en klappers geen vreugde vir diere inhou nie, maar eerder vrees en verwarring wat telkens tot beserings en soms dood lei. Terwyl diegene wat die vuurwerke afvuur lekker lag en ontspan, sal daar ander inwoners wees wat 2020 met trane en hartseer gaan begroet.
Dit gebeur jaar-in-en-jaar-uit. Jy kan eenvoudig nie staatmaak daarop dat jou buurman oor jou diere voel soos jy nie, en jy kan ook nie daarop staatmaak dat hy wetsgehoorsaam sal wees en nie vuurwerke afvuur nie. So maak vroegtydig voorsiening en sorg dat jou diere veilig is. Jy kan nie lekker gaan partytjie hou terwyl jy weet jou diere is vreesbevange alleen by die huis nie.
Vaalweekblad kry weekliks versoeke van mense om foto’s te plaas van hul verlore diere wat op een of ander wyse uit die erf gekom het. Of mense wat verlore diere gevind het en die eienaars probeer opspoor want daar is geen manier om die eienaar te kontak nie.
Dit is nou amper 2020 en dit behoort werklik nie meer so te wees nie. Sorg dat jou diere veilig en agter ‘n heining is. Sorg dat hulle “gechip”of ten minste ‘n halsbandjie aan het met ‘n kontaknommer daarop. Inwoners behoort meer moeite te doen om te sorg dat hul diere nie so maklik verlore gaan nie. Daar is gevalle waar dit eenvoudig buite beheer van die eienaars was, maar in die meeste gevalle was dit eenvoudig weens nalatigheid.
Sorg veral op die 31ste dat hulle ‘n plekkie het waar hulle veilig sal voel wanneer die klappers begin afgaan. Die beste plek is natuurlik by jou. Indien jy kan, hou jou diere in ‘n toe vertrek en draai die televisie se klank harder as gewoonlik. Onthou jou diere kan nie help dat hulle vreesbevange raak nie, om met hulle te raas sal sake vererger. As jy weet jou dier is baie bang, kry vooraf ‘n kalmeermiddel by ‘n veearts.
Die wet bepaal:
- Vuurwerke mag nie in die publiek afgevuur word nie – dit sluit in parke, op die sypaadjie en in die strate.
- Vuurwerke mag nie deur informele handelaars of by vlooimarkte verkoop word nie
- Diegene wat vuurwerke wil afvuur moet in besit wees van ‘n geldige lisensie.
- Vuurwerke mag ook nie binne 200m van ‘n hospitaal, kliniek, petrolstasie, ouetehuis of dierebeskerming afgevuur word nie.
- Niemand onder die ouderdom van 16 word toegelaat om vuurwerke te koop of af te vuur nie.
- Vuurwerke mag nie op iemand, ‘n dier, ‘n gebou of voertuig gerig en afgevuur word nie.
- Geen persoon of organisasie word toegelaat om ‘n vuurwerkvertoning te hou sonder die wettige toestemming deur die munisipaliteit (met ten minste 14 dae kennis) nie, en daar moet ook ‘n wettige vuurwerkspesialis teenwoordig wees.
- Vuurwerke mag slegs in goedgekeurde gebiede tussen 19:00 en 22:00 op Guy Fawkes-dag afgevuur word. (laasgenoemde word nie werklik in Suid-Afrika gevier nie).
- Indien bogenoemde wette oortree word kan dit tot ‘n boete of tronkstraf lei.

Hierdie metode help om sekere honde kalmer te maak wanneer hulle bang is.



