Local newsNewsNewsBreaking News

2019 – Wat ‘n jaar!

Gedurende 2019 was daar baie hoogtepunte waaroor Vaalweekblad berig het, maar ongelukkig sal 2019 altyd onthou word vir die groot tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark toe ‘n betonbrug inmekaar getuimel en die lewe van vier geliefde leerlinge geëis het. 1 Februarie sal daardeur waarskynlik vir altyd as Swart Vrydag in die Vaaldriehoek bekend …

Gedurende 2019 was daar baie hoogtepunte waaroor Vaalweekblad berig het, maar ongelukkig sal 2019 altyd onthou word vir die groot tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark toe ‘n betonbrug inmekaar getuimel en die lewe van vier geliefde leerlinge geëis het.

1 Februarie sal daardeur waarskynlik vir altyd as Swart Vrydag in die Vaaldriehoek bekend staan. Die tragiese fratsongeluk het nie net die lewens van Roydon Olckers, Jandre Steyn, Marli Currie en Marnus Nagel geëis nie, maar talle leerlinge is ook ernstig beseer en verskeie lewens onherroeplik verander. Wat wel daaruit gespruit het is die bewys dat Vaaldriehoekers groot harte het. Inwoners het mekaar deur hierdie hartseer tyd gedra en ondersteun.  In werklikheid het die hele land na die skool, die leerlinge, hul ouers, en die gemeenskap uitgereik.

Dit het ook gelei tot ‘n geskiedkundige massa-motorfietsrit ter ere aan die gestorwe en beseerde leerlinge. Ysterperde sover as wat die oog kon sien het van regoor Suid-Afrika hul weg na die HS Driehoek gebrul vir ‘n spesiale gedenkdiens.

In April het nog ‘n tragedie afgespeel toe Coert Kruger sr. van Vanderbijlpark sy eie seun vir ‘n inbreker by ‘n buurman se woning aangesien en doodgeskiet het. Kruger sr. is egter vrygespreek, maar die saak teen hom is onlangs weer deur die Menseregte Kommissie geopen.

Aan die einde van Junie het inwoners en die land saam begin gebid vir die herstel van plaaslike inwoner Madelein Carelse (42) van Vanderbijlpark, wat om haar lewe moes veg teen ‘n vleisvretende-bakterieë. Wat as ‘n gewone tandpyn begin het, het later daartoe gelei dat haar gesig geskend en haar lewe in gevaar was. Madelein ontvang steeds behandeling.

In September is die idilliese gedagte dat jou kind veilig by die skool is vir ewig weggevee vir ouers, toe Amy-Leigh de Jager (6) van Vanderbijlpark een Maandagoggend net na 07:15 reg voor die Laerskool Kollegepark uit die hande van haar ma gegryp en ontvoer is. Sy is die Dinsdagoggend omstreeks 02:00 ongedeerd teruggevind. Die meesterbrein agter die ontvoering was ‘n onderwyseres by die skool en gewese vriendin van die gesin, Tharina Human. Die hofsaak duur voort.

En net om te wys dat die jaar beslis ietwat meer buitengewoon as ander jare was, het plaaslike inwoner Rita Woodall-Terblanche (63) in November besluit om met haarself te trou. Sy het haar trouring, kompleet met geel diamant en perdehoefvorm, vir haar selftroue laat ontwerp. Ietwat “bisarre” vir sommige mense, maar Sologamie is in ander lande nie so omstrede of buitengewoon nie. Maar omdat Rita waarskynlik die voorloper hiervan in die Vaal en moontlik in die land was, het haar “groot dag” selfs die nuus op televisie gehaal en behoorlik die tonge los gehad op sosiale media.

  • Hierdie was maar slegs ‘n paar van die hoogtepunte. Vaalweekblad wens al ons getroue lesers en adverteerders ‘n voorspoedige nuwejaar toe. Ons sal in 2020 weer eens ons bes probeer om ons lesers op hoogte van alle nuusgebeure in die Vaal te hou.
    Motorfietsryers van regoor Suid-Afrika het die geskiedkundige massarit ondersteun. Foto: Elsje Vermeulen
    Madelein Carelse van Vanderbijlpark wat hierdie jaar hard om haar lewe moes veg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button