Onbekende man etlike kilometer onder trok gesleep
Polisie wil kontak met oorledene se familie maak
VANDERBIJLPARK – Die Vanderbijlparkse Polisie is op soek na familielede van ‘n man wat op 14 Desember onder ‘n vragmotor gesleep is en op die Golden Highway naby Vanderbijlpark, gesterf het.
Volgens polisiewoordvoerder sersant Gertrude Makhale word ‘n saak van strafbare manslag weens die voorval ondersoek.
Die vragmotorbestuurder beweer hy het eers na etlike kilometer agtergekom dat die onbekende manlike slagoffer onder die vragmotor gesleep word. Volgens Makhale het die oorledene ‘n blou T-hemp, blou langbroek en bruin skoene aangehad. Die oorledene was vermoedelik in sy vroeë 40’s.
Sersant Makhale doen ‘n beroep op enigiemand wat ‘n familielid, vriend, kollega of werknemer vermis wat aan die beskrywing voldoen, om die Vanderbijlparkse Polisie of speur-adjudant-offisier Booyens by 074 677 8131 of (016) 910-9000 te kontak.



