Die mens se pret is diere se pyn
Net soos voorspel en verwag is, het dit gisteraand soos oorlog in woonbuurte en op kleinhoewes in en rondom die Vaaldriehoek geklink. Oral op sosiale media word daar nou hartseer na verlore diere gesoek. Baie inwoners het vanjaar ekstra moeite gedoen om te sorg dat hulle diere veilig is toe die groot oomblik aanbreek, maar …
Net soos voorspel en verwag is, het dit gisteraand soos oorlog in woonbuurte en op kleinhoewes in en rondom die Vaaldriehoek geklink.
Oral op sosiale media word daar nou hartseer na verlore diere gesoek. Baie inwoners het vanjaar ekstra moeite gedoen om te sorg dat hulle diere veilig is toe die groot oomblik aanbreek, maar eienaars wat nie so gelukkig is nie, word aangeraai om more die Vanderbijlpark/Vereeniging/Sasolburg Diere Beskermings Verening (DBV) te kontak.
Terwyl inwoners fees gevier en die nuwe jaar verwelkom het, het diere verwilderd en in vrees op die vlug geslaan. Selfs vir diere wat wel veilig in die huis by hul eienaars was, was dit ‘n vreesaanjaende ondervinding. Daar is nog nie inligting ontvang oor voorvalle wat deur die plaaslike DBV hanteer moes word nie, maar van ander DBV’s is voorvalle gerapporteer van ‘n worshondjie wat in ‘n gat geval het toe hy verwilderd weggehardloop het. Hy kon gelukkig gered word. Daar was egter ander honde wat nie so gelukkig was nie wat voor aankomende verkeer ingehardloop het en doodgery is.
Talle honde is ook beseer wat in hul paniekbevange toestand deur heinings en palisades probeer vlug het. Daar is geen manier hoe die mensdom se pret soveel pyn en lyding kan regverdig nie!
- DBV-beamptes het gisteraand hard gewerk om bang en verlore diere na veiligheid te bring. Die plaaslike DBV was vandag net tot 12:00 oop, en sal weer more van 09:00 oop wees. Indien inwoners intussen ‘n verlore hond by hul woning het, word hulle gevra om die hond veilig te hou en dan more na die DBV te neem. Die DBV kan tydens werksure by 016 422 1505 or 083 292 5862 gekontak word.




