NewsNews

‘Ferdie ’n modelkind wat met blydskap geleef het’

VEREENIGING. - Min dinge het vir Ferdie Pieterse (20) meer bevrediging gegee as om sy noodhulptas te gryp en ‘n medeleerling wat seergekry het, te gaan help. Verlede Dinsdagmiddag, nadat hy in ‘n motorfietsongeluk in Vanderbijlpark betrokke was, kon paramedici egter niks doen om dié jong man met die groot, sagte hart deur te haal nie.

Ferdie, verlede jaar se onderhoofseun met die portefeulje: Dissipline by Vereeniging Gimnasium, het Dinsdagmiddag (7 Januarie) omstreeks 14:00 op slag gesterf nadat hy vermoedelik ‘n slaggat in Louis Trichardt-boulevard getref het. Volgens ‘n ooggetuie het hy skielik oor sy motorfiets se handvatsels getrek, teen ‘n voertuig geval en bewegingloos bly lê. Ferdie was in daardie stadium vanaf Vanderbijlpark se lisensiekantore, waar hy toe pas sy kode 10-rybewys vir vragmotors geslaag het, na sy nuwe werk in Vereeniging op pad. Hy het net die vorige dag as vakleerling in dieselmotorwerktuigkunde by MAN begin werk.
Paramedici was gou op die toneel, maar kon niks meer vir Ferdie doen nie. Hy het op slag gesterf. Ferdie het ‘n veelbewoë kinderlewe gehad en was vanaf sy kleuterjare ‘n inwoner van die Catherine Robson-kinderhuis in Vereeniging. Hier het hy later sy toekomstige pleegpa, mnr. Morné Britz,
ontmoet en vier jaar gelede amptelik deel van die Britz-gesin van Meyerton geword.
Mnr. Britz, ‘n finansiële bestuurder by ‘n onderneming aan die Oos-Rand, het Ferdie reeds jare gelede as jong seun leer ken toe hy ‘n kind van ‘n werknemer by die kinderhuis met ekstra wiskundelesse gehelp het.
“Ferdie het net dadelik onder my en my vrou, Luzaan, se vel ingekruip. Hy was ‘n modelkind al was daar mense wat bedenkinge oor ons besluit gehad het. Ons was nooit ‘n oomblik spyt dat ons hom permanent deel van ons gesin gemaak het nie,” sê mnr. Britz. “Luzaan en ek het saam besluit dat ons die pad saam met Ferdie gaan stap. Ons het hom liefgehad asof hy ons biologiese kind was. Hy het soos ‘n handskoen by ons gesin ingepas en baie goed met ons twee dogtertjies, Melissa (6) en Luzé (3), oor die weg gekom. Dis veral vir Melissa, wat haar ‘ouboet’ se skaduwee was, baie moeilik om sy dood te verwerk,” sê mnr. Britz.
“Hoewel ons hom nooit voorgesê het hoe hy ons moes aanspreek nie, het Ferdie ons uit sy eie ‘Dad’ en ‘Mammie’ genoem. “Ek het hom soggens met ‘n koppie koffie wakker gemaak en hom soveel as moontlik met moeilike skoolwerk gehelp.
“Hy het selfs die kleinste dingetjies wat ons vir hom gedoen het, waardeer en gesê hy is 100% gelukkig by ons. Op sy beurt het hy ons net so gelukkig
gemaak.”
Mev. Luzaan Britz, wat in President Hyper se administratiewe afdeling werk, sê Ferdie het met blydskap en volgens Psalm 136 geleef (‘Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie’). Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy dit selfs op sy arm laat tatoeëer het.
Hoewel Ferdie deelgeneem het aan verspring, hekkies en rugby, het hy dit selfs meer geniet wanneer hy as opgeleide Vlak 3-paramedikus met noodhulpdiens tydens sportbyeenkomste by sy skool kon help, sê Luzaan. Hy het ook by meer as een geleentheid ‘n kind in skooltyd bygestaan wat byvoorbeeld epilepsie gekry het of op ‘n ander wyse noodhulp benodig het. “Hy het baie vir ander mense omgegee – of hy hulle geken het of nie,” sê sy.
Ferdie sou Woensdag, die dag na sy dood, sy matriekuitslae kry, maar dit lê nog onafgehaal by die skool. “Dit is nie nou vir ons belangrik nie. Ons sal later daaraan aandag gee. Ons moet nou eers die begrafnisreëlings tref en sy dood probeer verwerk,” sê mnr. Britz.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button