Volgens Tiaan se oumagrootjie, mev. Lena van Rooyen van Oakstraat, Drie Riviere, het hy die betrokke oggend gedurende die skoolvakansie by haar en haar man, mnr. Corrie van Rooyen (81) gekuier. “Ons is baie erg oor die klein bulletjie en hy oor ons,” sê sy.
Mev. Van Rooyen was die oggend in die kombuis besig om tee te maak terwyl Tiaan en sy oupagrootjie in die slaapkamer was. Tiaan het agterna vertel hy het skielik gesien Oupa Corrie lyk nie goed nie: “Oupa was besig om van die bed af te gly en ek kon hom nie wakker kry nie,” het hy vertel. Die kleinman het onmiddellik ER24 se noodnommer geskakel, die adres verskaf en gesê daar is groot fout met Oupa. Hulle moes dadelik kom. Daarna het hy sy pa, mnr. Corné van Rooyen, se werksnommer geskakel, maar sy pa was nie beskikbaar nie. Hy het toe sy ma, Annelize, gebel om haar oor die drama in te lig.
Mev. Van Rooyen was steeds in die kombuis besig, salig onbewus van die krisis in die slaapkamer. Min of meer dieselfde tyd toe Tiaan haar kom roep om te kom help met Oupa Corrie, het die verbaasde mev. Van Rooyen ‘n oproep van paramedici van ER24 ontvang om te sê Tiaan het hulle reeds geskakel en dat hulle binne enkele minute by die Van Rooyens se huis sou wees.
Met die paramedici se aankoms was Tiaan dadelik by om die trollie te help stoot sodat sy oupagrootjie vinniger hulp kon kry. Daar is vermoed dat mnr. Van Rooyen ‘n ligte beroerte gehad het en nadat noodbehandeling toegepas is, is hy per ambulans na die Midvaal Private Hospitaal in Drie Riviere vervoer. Na sowat ‘n week is hy ontslaan en maak goeie vordering tuis.
Volgens ‘n dokter wat hom behandel het, het Tiaan waarskynlik sy oupagrootjie se lewe gered of ernstige nagevolge voorkom deur so vinnig mediese hulp te ontbied.
Mnr. en mev. Van Rooyen sê hulle is steeds verstom oor klein Tiaan se vinnige optrede en sy kalmte dwarsdeur die ontstellende episode. Tiaan beskou homself egter glad nie as ‘n held nie. Hy was verlede jaar in Graad 1 aan die Laerskool Risiville en sê hy het maar net gedoen wat hy in die skool geleer is om in ‘n noodgeval te doen.
Tiaan is die kleinseun van wyle Lieb van Rooyen, ‘n oudluitenant-kolonel in die polisie en later geliefde berader en arbeidsregspesialis in die Vaaldriehoek, wat in 2016 in ‘n skietvoorval gesterf het. Tiaan is Corrie en Lena van Rooyen se enigste agterkleinkind en die egpaar sê die onlangse voorval waarin hy sy oupagrootjie se lewe gered het, het hulle nog nader aan dié kosbare kind gebring.



