NationalNews

Country legende, Lance James, in die hospitaal

Groot terugslag nadat hy in hospitaal val en heup breek

 

Die geliefde Country-sanger Lance James (81) word in die waakeenheid van ‘n hospitaal behandel nadat hy onlangs ‘n ernstige gesondheidsterugslag gehad het.
Volgens sy agent, Lydia Winchester, is hy 10 dae gelede opgeneem weens moegheid en sukkel hy al lank met hartprobleme, wat die dokters tans dienooreenkomstig behandel.

Volgens ‘n mediaverklaring wat me. Winchester oor die naweek namens sy familie uitgereik het, het hy ‘n groot terugslag gehad toe hy in die hospitaal geval en sy heup gebreek het. “Dit was noodsaaklik dat hy ‘n heupvervangingsoperasie moes ondergaan, wat ‘n groot operasie is vir ‘n man van byna 82,” sê sy.

“‘n Verdere terugslag was toe hy ‘n infeksie opgedoen het en na die intensiewe-sorgeenheid oorgeskuif is, waar hy tans die beste mediese behandeling ontvang.

Me. Winchester sê James se familie is oorwelding en ongelooflik dankbaar vir die ondersteuning wat hulle van die publiek af ontvang, maar doen ‘n beroep dat, as gevolg van sy toestand, niemand hom asseblief tans in die hospitaal moet probeer besoek nie. “Ons bid en vertrou dat ons ‘Big Daddy’ se toestand spoedig sal verbeter,” sê sy.

* Lance James (gebore 18 Julie 1938) was vanaf 1954 tot 1985 ‘n radio-omroeper by die destydse Springbok Radio. Hy is reeds talle kere in die Vaaldriehoek en nasionaal gehuldig vir sy bydrae tot Country-musiek en is ook in 2009 tydens Huisgenoot se Skouspel saam met 9 ander sangers vereer vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse en Suid-Afrikaanse musiek. Van sy grootste treffers sluit in Dankie, Vicki en Ahoy, Madagaskar Ahoy!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button