NewsNews

Drie van Vaal in hegtenis na verdwyning van oud-Koevoetlid

Drie inwoners van die Vaaldriehoek is in aanhouding in Pretoria na die raaiselagtige verdwyning van oud-Koevoetlid, Chris Barnard (54), wat in Desember vermis geraak het nadat hy ‘n paar dae saam met ‘n 33-jarige vrou van Vanderbijlpark deurgebring het.

Barnard, ‘n enkelloper wat vir ’n Amerikaanse veiligheidsmaatskappy in Irak werk, het op 1 Desember vir ’n vakansie na Suid-Afrika teruggekeer en
in sy huis in Annlin, Pretoria, tuisgegaan.
Sy suster en swaar woon glo in die huis terwyl hy oorsee werk. ’n Paar dae later het hy die vriendin, wat hy op Facebook ontmoet het terwyl
hy nog in Irak was, in Vanderbijlpark besoek en na Pretoria saamgeneem. Hy sou na die huis omsien terwyl sy familie in Mosambiek met verlof was. In dié tyd het hy ‘n foto van hom en die vrou aan sy suster-hulle gestuur en gesê dat hy die meisie behoorlik in Pretoria trakteer. Nie lank daarna nie het sy familie egter “vreemde” boodskappe en versoeke van sy selfoonnommer af begin ontvang, soos dat vertroulike inligting oor sy bankrekening aan hom gestuur moes word. Hulle het ook ‘n ongewone versoek ontvang dat R60 000 van sy geld oorgeplaas moes word, onder andere vir ‘n vliegkaartjie omdat hy glo skielik na Irak moes terugkeer.
Volgens sy swaer, De Wet van Wyk, het die familie onraad vermoed omdat sy werkgewer nog altyd sy vliegkaartjies betaal het. Hulle het nog meer agterdogtig geraak toe hy per WhatsApp laat weet het dat hy sy Jeep gaan verkoop om vir sy vliegkaartjie te betaal.
Die Van Wyks het toenemend bekommerd geraak omdat die selfoonboodskappe nie in Barnard se normale styl was nie en het ‘n familielid in Pretoria gevra om na hul huis te gaan en seker te maak alles is reg. Dit was tóé dat hulle besef het daar is groot fout. Die familielid het laat weet die huis was omgedolwe en geplunder, en van Barnard was daar geen spoor nie. Die Van Wyks het dadelik uit Mosambiek teruggekeer huis toe en ‘n klag van huisbraak en diefstal by die Sinoville-polisie ingedien. Hulle het Barnard ook as vermis aangemeld.
Vinnige speurwerk het daartoe gelei dat drie verdagtes, ‘n 33-jarige vrou van Vanderbijlpark en twee mans van 35 jaar (onderskeidelik van Sasolburg en Vereeniging) ‘n paar dae later in hegtenis geneem is. Barnard se Jeep en heelwat van die Van Wyks se gesteelde huisraad is in Vanderbijlpark opgespoor.

Barnard saam met die 33-jarige vriendin in wie se geselskap hy glo in Desember was voordat hy vermis geraak het. Haar identiteit word in dié stadium weerhou.

Die drie verdagtes het reeds vlugtig op aanklag van huisbraak en diefstal in die landdroshof in Pretoria-Noord verskyn en is steeds in aanhouding.
Die polisie het glo rede om te vermoed dat Barnard vermoor is. ’n Klag van moord is verlede week by die ander aanklagte gevoeg, al was sy lyk teen Vaalweekblad se saktyd nog nie gevind nie.Die hofsaak is uitgestel vir verdere ondersoek en die verdagtes bly in aanhouding nadat hulle Vrydag hul aanvanklike borgtogaansoek laat vaar het. Hul identiteit is aan Vaalweekblad bekend, maar word op regsadvies weerhou totdat hulle op die aanklagte gepleit het.Snuffelhonde van die soek-en-reddingseenheid, polisieduikers en lede van die polisie se lugvleuel was die afgelope week druk besig met ‘n soektog in die omgewing van die Bon Accord-dam in Pretoria – die laaste plek waar Barnard se selfoonsein geregistreer het voordat hy vermis geraak het.
Die private spesialis-ondersoeker, Mike Bolhuis, se onderneming is nou ook by die soektog betrokke. * Enigiemand met inligting oor Barnard se verdwyning word versoek om sers. Ferreira by 071 675 7373, of Bolhuis se ondersoekers, die voormalige polisiekolonelle Vince Harris by 082 673 1830 of Luke Enslin by 082 222 5821 te skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button