NewsNews

Monica is top polisiestudent

SASOLBURG. - Sy het reeds op skool geweet dat sy eendag die blou uniform met trots gaan dra en konstabel Monica Delport, ‘n boorling van die dorp, het nie net onlangs by die Graaff-Reinet Polisie Akademie uitpasseer nie, maar is ook as die top student vir 2019 aangewys. Daarbenewens het sy ook die toekenning as fiksste student ontvang.

Die beste deel hiervan is dat hierdie top student na die Vaal uitgeplaas is. Sy werk reeds by die Zamdela-polisiestasie in Sasolburg.
“Trotser kan ‘n ouer nie wees nie,” sê pa Nico en ma Lizette Delport van Sasolburg.
Haar pa is self ‘n adjudant-offisier in die polisie se Forensiese Dienste en Lizette het ‘n nasorgsentrum by Afrikaans Hoërskool Sasolburg.
“Die opleiding was baie taai. Daar was goeie en slegte tye, maar ek het bevriend geraak met ‘n ander student en ons het mekaar bygestaan en gemotiveer,” sê konstabel Delport.

Net daar heel bo is waar sy wil wees. Konstabel Monica Delport mik om nommer een te wees van al die top studente in die land.

Haar raad aan ander wat ook by die polisie wil aansluit is: Moet nooit ophou probeer nie. “Dit het my drie jaar geneem om uiteindelik keuring te kry, maar as jy ‘n passie het om mense te help, hou aan probeer.”
Dié jong konstabel het nie baie tyd vir stokperdjies nie, maar is ingestel op sport en fiksheid. Sy neem graag aan marathons deel.
Sy is nou doelgerig om hierdie jaar teen die vyf ander polisie-akademies se top studente te kompeteer en wil nommer een in die land wees.
Haar groot droom is om ‘n diploma in hondegedragswetenskap te verwerf en uiteindelik in die bedreigde spesie-afdeling van die polisie se Honde-eenheid te werk. As deel van haar prys as top student het sy ‘n beurs verwerf wat sy kan gebruik om in enige rigting in die polisie te studeer. * Vaalweekblad wens konstabel Delport geluk met die prestasie en het volle vertroue dat sy haar droom sal verwesenlik

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button