Longkanker eis bekende apteker
MEYERTON. - ’n Bekende voormalige apteker van die dorp is op Dindag, 14 Januarie oorlede nadat hy ’n lang stryd teen longkanker verloor het. Mnr. Jaap van Reenen (74) was saam met sy vrou Liz, vir meer as drie dekades die eienaars van Jaap van Reenen Apteek in Lochstraat in die dorp. Die apteek bestaan reeds sedert 1972 toe die Van Reenens hulle in Meyerton kom vestig het.
Jaap was ’n gerespekteerde apteker en het vir baie jare in die uitvoerende komitee van die Suid-Afrikaanse Aptekersvereniging gedien. Selfs na sy aftrede het hy as inspekteur vir die Aptekersraad gedien. Hy was ook ‘n direkteur van die AlphaPharm groothandel-aptekersgroep waar hy tot na sy aftrede gedien het. “Weens sy uitgaande persoonlikheid en belangstelling in die mense om hom, het hy baie vriende oor die hele land en selfs in die buiteland gehad,” het Liz vertel. Jaap is op 29 April 1945 in Ficksburg in die Vrystaat gebore waar sy pa as geneesheer gepraktiseer het.
Die gesin het later na Potgietersrus (Mokopane) verhuis, waar hy sy skoolloopbaan begin het. In sy laaste skooljaar het die gesin na
Pretoria verhuis waar Jaap aan die Afrikaanse Hoër Seunskool matrikuleer het.

Meyerton, saam met sy vrou Liz.
Op skool was Jaap ‘n kranige sportman wat veral in atletiek en rugby uitgeblink het. Ná skool het hy aanvanklik medies aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar later besluit om eerder ‘n apteker te word. Hy het sy B.Sc-graad in Farmasie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys verwerf, waarna hy as apteker by Fred Steyn Apteek in Vereeniging begin werk het. Tydens sy loopbaan het 15 aptekers hul praktiese jaar by sy apteek voltooi.
Jaap was lief om gholf te speel, maar het later oorgeskakel na rolbal. In sy jonger dae was hy ‘n kranige vlieënier. Sy groot liefde was egter sy jagplaas Hardekool, in Alldays-distrik waar hy saam met sy familie en vriende ontspan en gejag het.
In Meyerton was hy oral en altyd betrokke. Hy was lid van die Rapportryerskorps waar hy verskeie kere as voorsitter gedien het. By die NGK Meyertonpark het hy in die kerkraad gedien, waar hy periodiek ook as leierouderling diens gedoen het. Hy het ook ‘n baie aktiewe
rol by sowel Disa Pre-Primêr, Laerskool Dr. Verwoerd (nou Midvaal) en by Hoërskool Dr. Malan as ouer, maar veral as ‘n lid van die beheerliggame diens gedoen.
Hy was vir baie lank bestuurslid en voorsitter van die Meyertonse Sakekamer. “Hy was soos hyself gesê het, ‘n “lover, not a fighter,” sê Liz.
Hy was ‘n groot gesinsman en het sy vrou en kinders altyd eerste gestel.
Jaap word oorleef deur sy vrou, Elizabeth Bond (Liz) en kinders Estelle Victor (woonagtig in Carletonville), Ricus van Reenen (Meyerton) en Mia Delport (Midrand), vyf kleinseuns en drie kleindogters.



