NewsNews

Vrae hang nog oor dood van oud-koerantman

VANDERBIJLPARK. - Vele vrae hang nog onbeantwoord na die onverwagse dood van mnr. Phillip van Staden (45), ‘n voormalige werknemer van MooiVaal Media, verlede week.

Phillip, wat in die vroeë jare 2000 as ‘n taalversorger en grafiese kunstenaar in Ster en Vaalweekblad se diens was, se liggaam is verlede Donderdag naak in die badkamer van sy meenthuis in Frikkie Meyer-boulevard, Vanderbijlpark, aangetref. Hy het vermoedelik reeds ‘n dag of twee tevore gesterf.
Phillip, ‘n enkelloper, is glo Dinsdagoggend vir die laaste keer lewend deur inwoners van die meenthuiskompleks gesien. Volgens sy vriendin en vertroueling van die afgelope 22 jaar, mev. Annette Erasmus van Plettenbergbaai, het sy Dinsdagaand net na 19:00 vir die laaste keer ‘n selfoonboodskap van hom af ontvang.
Teen Woensdag het van sy bure gesien dat daar water by sy voordeur uitloop en iemand het die hoofbuitekraan gaan toedraai, maar skynbaar nog nie onraad vermoed nie. Teen Donderdag, toe daar steeds geen teken van Phillip was nie, het van sy kennisse bekommerd geraak en sy ouer broer, Hannes van Staden, geskakel om ondersoek te kom instel.
“Die deure van sy meenthuis was gesluit en ek moes die agterdeur oopbreek. Phillip se hondjie, Muesli, was steeds in die huis toegemaak en ek het besef dat ek dalk op ‘n ontstellende toneel gaan afkom,” sê Hannes, ‘n paramedikus by ER24. Hy het deur die huis gestap om na Phillip te soek, en hom dood in die stort aangetref.
Die presiese oorsaak van dood is in hierdie stadium nog onbekend. Dit sal later die week deur middel van ‘n lykskouing bepaal word. Sekere verdagte tekens, waaroor Vaalweekblad nog nie mag berig nie, dui daarop dat daar moontlik misdaad by sy dood betrokke was. Vanderbijlpark se speurtak is tans besig met die nadoodse ondersoek.
“Phillip was in baie opsigte briljant en talentvol, veral in taal en skryfwerk. Hy het ook ‘n baie wye algemene kennis gehad,” sê Hannes. Nadat Phillip Vaalweekblad se diens omstreeks 2004 verlaat het, was hy óf voltyds, óf as vryskut by verskeie ander nasionale publikasies betrokke en het veral naam gemaak as rubriekskrywer vir reistydskrifte.
Vir Annette Erasmus, ‘n opgeleide pastoor wat Phillip se troosdiens gaan waarneem, is sy dood ‘n besonder groot skok en verlies.
“Hy was vir my die kleinboet wat ek nooit gehad het nie. Ek was sy trooster in moeilike tye, sy berader, sy finansiële raadgewer en sy ‘ousus’. Ek sal hom onthou as ‘n liefdevolle, saggeaarde mens met ‘n groot hart, wat bereid was om almal te help waar hy kon. Hy het die afgelope tyd baie nader aan die Here geleef en gereeld met my daaroor gepraat,” sê sy. Phillip word oorleef deur sy pa, mnr.
Hennie van Staden van Vanderbijlpark, twee broers en ‘n suster. Die verassingsdiens vind op 5 Februarie om 10:00 by die Hetesh-gemeente op die hoek van Watermeyer- en Fitzsimmonsstraat, Vanderbijlpark, plaas.
* Phillip het ongelukkig nie ‘n begrafnispolis gehad nie. Enigiemand wat bereid is om ‘n bydrae tot sy verassing te maak, kan pastoor Erasmus by 083 554 9714 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button