
Sy het ‘n paar dae voor haar doop op Sondag, 26 Januarie, haar eie kleedrepetisie gehou en Vaalweekblad was daar om die oomblik vas te vang.
‘n Kleedrepetisie vir ‘n doop is ietwat ongewoon, maar nie almal kry die geleentheid om in ‘n rokkie wat 109 jaar oud is hul verskyning voor die kansel te maak nie! Milanique se dooprok is die eerste keer in 1911 deur Japie Visagie, ‘n oom van haar oupa, Derick Harley, gedra.
Sedertdien is 20 babas al deur die dekades in die rok gedoop. Milanique se oumagrootjie, Telma (1918), haar oupa Derick (1955) en haar ma, Leandri (1988) het almal op hul dag in die dooprok gespog. Juis daarom is haar oupa Harley gevra om haar die kerk in te bring.
Die rok is in 2006 laas gebruik. Dit is ‘n geruime tyd agter glas en grendel gebêre kompleet met ‘n bord met al die dopelinge se name, maar is onlangs met groot sorg van die Kaap gestuur om weer gedra te word. Die rokkie is nog pragtig wit en die kantinsetsels bykans ongeskonde.
Die aan- en uittrek daarvan verg net hope geduld met al die bandjies wat agter vasgebind moet word. Gelukkig was oupa daar om te help. Toeka se
rokkies was heelwat langer as vandag se modes, maar Milanique het die vreemdheid soos ‘n professionele model hanteer. ‘n Flinke skop of twee toe
hang die rok presies soos sy dit wou hê en kon ons na hartelus van haar foto’s neem.



