

Verskeie plaaslike besighede het reeds ‘n groot bydrae gemaak om die die Vaaldriehoek van totale verval te red. Hulle het ‘n groot impak gemaak deur hul perseel, die straat voor hul besighede en selfs die middelmannetjie op te knap. Dit het alles van grassny tot die opvul van slaggate ingesluit.
Daar is ook huiseienaars wat ingespring het en veral in Vanderbijlpark die middelmannetjies voor hul eiendom mooi gemaak het.
In Arconpark was motoriste reeds raadop met die groot slaggate in die woongebied, veral naby die Checkers Hyper waar daar daagliks baie verkeer is.
Engen Arconpark het besluit tot hiertoe en verlede Woensdag het die personeel vanaf 09:30 tot 15:00 hul kantore verruil om slaggate reg te maak.
Engen Arconpark het self 75 sakke teer aangekoop en ‘n kompakteerder vir die taak gehuur.
“Ander besighede wat ook wil inspring, kan die teer by B&R Hardeware teen R89 per sak koop. Een sak teer weeg sowat 25kg,” sê Tobie Kirsten, bestuurder van Engen Arconpark. Hul personeellede wat vir die dag se harde werk bedank moet word is:
Mariana du Preez (eienaar), Tobie Kirsten, Giel du Preez, Stephen Mylie, Mpho Boom en Rodé van Aswegen. * Indien jou besigheid ‘n positiewe bydrae gemaak het, neem ‘n foto en stuur inligting aan elsje.vermeulen@media24. com of kontak Elsje by (016) 950 7051.



