Ockert Potgieter (64), wat ’n lewe maak deur agter die River Square Winkelsentrum te bedel, hou egter vol dat hy werklik amper heeltemal blind is.
Potgieter pendel elke dag met ’n taxi vanaf Vereeniging se middestad tot in Drie Riviere om by die kruising van Generaal Hertzogweg en Nilerylaan te bedel.
Bedags sit hy op ’n middelmannetjie tussen die verkeer op ’n opvoustoeltjie, met ’n donkerbril, hoed en kierie en bedel. Hy beweer dat hy weens sy blindheid nie geskik is vir werk nie.

sonder sy kierie in die middestad rondloop. Op sy rug is sy bekende opvoustoeltjie en kierie. Foto: Verskaf
Maar Japie Venter, ’n Vaalweekblad-leser, sluk swaar aan Ockert storie. Japie sê hy het Ockert onlangs in die middestad gewaar waar hy sonder ‘n kierie rondgeloop het. Japie het foto’s geneem en dit vir Vaalweekblad aangestuur. Hy vertel: “Ek sit toe net voor Kersfees in ’n kar vir my vrou by die Poskantoor (in die middestad) en wag. Hier kom hy (Ockert) en ’n ander ou aangestap. Ek herken hom toe as die ou wat altyd agter River Square sit en bedel, sê toe ‘Jou bliksem!’ en kliek, neem ’n foto.”
Op ’n ander foto kan mens sien hoe Ockert skynbaar met gemak loop terwyl hy sy kenmerkende opvoestoeltjie en kierie op sy rug dra. Ockert het aan Vaalweekblad gesê dat hy nie sonder sy kierie kan loop nie, selfs al wil hy. Hy hou vol dat hy heeltemal blind is in sy linkeroog en slegs 7% sig in sy regteroog het. Ockert, ’n gekwalifiseerde ketelmaker, vertel hoe ’n stuk roesvrye staal in die laat tagtigerjare in sy linkeroog beland het toe hy nog by die Lethabo Kragstasie gewerk het. Die besering het hom blind in die linkeroog gelaat, met die einste stukkie roesvrye staal wat tot vandag toe nog in die oog vassit. Ockert het glo feitlik al die sig in sy regteroog verloor nadat ’n katarakverwyderingsoperasie by Sebokeng Hospitaal jare daarna skeefgeloop het. “Hulle het my hele oog se vlies stukkend gesny. Daar is hy ook nou in sy hel in,” vertel hy.

Volgens Ockert sit hy met ’n dik lêer dokterspapiere by sy huis wat kan bewys dat hy blind is. Hy vertel ook dat ds. Chris Olivier van Drie Riviere-Oos
gemeente destyds R30 000 vir ’n operasie ingesamel het vir sy enigste werkende oog. “Was dit nie vir ds. Olivier en sy gemeente nie, was ek nou heeltemal blind,” sê hy.



