Reis saam na 2020-Passiespel in Oberammergau
Toerlede kan die reis van 7 tot 17 Augustus 2020 meemaak!

Die dorpie Oberammergau in Suid-Duitsland, sowat 20 km vanaf die Oostenrykse grens, is reeds ‘n miernes van bedrywigheid in aanloop tot die wêreldbekende Passiespel wat weer vanjaar opgevoer gaan word.
Getrou aan ‘n belofte wat Oberammergau se inwoners in 1633 aan God gemaak het – dat hulle elke tien jaar ‘n reuse-Passiespel sou aanbied as Hy hulle teen die Swart Pes sou beskerm – word Christus se lyding en sterwe in 2020 weer op die planke gebring in ‘n opelug-teater op dieselfde plek waar die opvoering byna 400 jaar gelede die heel eerste keer gehou is. Sowat 2 000 inwoners van Oberammergau is by die aanbieding betrokke.
Die premiére vind in Mei vanjaar plaas en die opvoerings duur tot Oktober. Nagenoeg 500 000 besoekers word in totaal vanjaar by die Passiespel verwag.
Twee Vaaldriehoekse inwoners, die prokureur Danie du Plessis en sy vrou Magda, is onder die gelukkiges wat beplan om die 2020-Passiespel by te woon. Dit is nie die eerste keer dat die egpaar vir dié skouspel na Oberammergau gaan reis nie. Tydens een van hul vorige besoeke waar hulle as toerleiers vir ‘n gerekende reisagentskap opgetree het, het hulle tuisgegaan by die gastehuis van een van die dorpenaars, wat die rol van Kajafas in die Passiespel gespeel het.
Vanjaar gaan die Du Plessis’s weer die reis aanpak en hierdie keer wil hulle weer ‘n hele klompie Suid-Afrikaanse reismaats saamneem om dié uitsonderlike aanbieding saam met hulle te beleef.
Hulle beplan ‘n Oberammergau-toer, wat ook besoeke aan pragtige dele van Oos- Europa sal insluit. Die Oos-Europatoer sal gedurende 7 tot 17 Augustus 2020 plaasvind. Sprokiesmooi bestemmings soos Wene, Budapest, Praag, München, Oberammergau en Innsbruck sal tydens die Oos-Europatoer besoek word.
“Om in ‘n groep saam te reis is geensins beperkend nie omdat daar in die reisplan voldoende tyd geskep word dat toeriste op hul eie verkenningswerk kan doen en saam met hul reismaats na besienswaardighede kan gaan, of die talle restaurantjies in die stede kan besoek,” sê Danie.
Nadere besonderhede oor die beplande toer is beskikbaar by Danie (082 800 3186) of Magda (083 268 6026) of Adele by Park Toere (016 931 1720 of 0727552185).



