Onthou en herbou: Driehoek nou ‘n lighuis van hoop
VANDERBIJLPARK. – Hoërskool Driehoek het Vrydag (31 Januarie) ‘n spesiale herdenkingsdiens gehou tydens die saalopening. Vier kranse met pers, geel, wit en pienk blomme het links voor die verhoog versier as ‘n herinnering aan die vier leerlinge wat verlede jaar in die brug tragedie oorlede is.
Die diens is gelei deur pastoor Vian Storm van die River of Life Familie Gemeente in Vanderbijlpark. Hy het in sy boodskap gesê dat hy verstaan dat nie almal aan die gebeure herinner wil word nie, maar eerder wil aanbeweeg. Ander voel weer dat hulle net nog ‘n wyle wil vertoef by dit wat gebeur het. Weer onthou. Verder verwerk. Hy het ook genoem dit maak nie saak hoe jy voel nie, “ons kan dit (die dag) nie ignoreer nie.” Daarna het hy aan die hand van die Bybel verhaal oor die vyf brode en twee vissies, ‘n boodskap van hoop en troos gebring.
“’n Jaar terug was daar ‘n breekslag in die skool. Baie van julle is steeds gebreek. Dis nie ‘n breek vir altyd nie. Ons gaan nie vergeet nie, maar ons sal gesonder wees. Ons sal nooit ophou herbou nie,” het hy gesê.

Daarna het Willem Engelbrecht van BTG Everyday Heroes die leerlinge bemoedig. In sy motiveringspraatjie het hy genoem dat hy die skool en die skoolwapen baie goed ken omdat dit deel geword het van so baie mense se profiel foto’s op sosiale media. “Die skool het ‘n hartseer jaar agter die rug, maar het nou baie gebede in die bank” het hy gesê.
Hy het daarna sy en sy broer, die sanger Jo Black, se stories aan die leerlinge vertel. Van hul rebelse, dwelmverslaafde dae tot waar hul vandag is en die werk wat hul in skole doen om ‘n golf van hoop aan te kondig. “Daar is genoeg stukkende goed in die wêreld. Kom ons maak die skool ‘n plek
van opbou … ‘n safe space,” het Willem sy broer aangehaal. Hy het ook gesê: “Driehoek is nou ‘n lighuis vir die res van die land.
Verlede jaar se storm kon die skool nie losskud nie.

Nou sal die skool hoop vir die land bring.” Al die leerlinge, die onderwysers en die besoekers het hul hande spontaan opgesteek toe Willem ‘n “onsie” vat om vir die wêreld te wys dat Hoërskool Driehoek nou ‘n skool van hoop is. Na die diens het die leerlinge en onderwysers in stilte die saal verlaat waarna die vier kranse by die nuwe gedenk-kunswerk neergelê is deur die hoofleiers. Na ‘n paar minute stilte het almal na hul klasse verdaag. ‘n Mens kon sien dat die emosies diep gesny het, maar ten spyte van rooigehuilde oë, het almal hul koppe hoog gehou.
Dapper en gedissiplineerd soos wat die hele skool al vir ‘n jaar lank is.



