Unieke musikale belewenis vir die Vaal
SASOLBURG. – Daar wag Sondagmiddag, 16 Februarie ‘n belewenis vir die Vaaldriehoek se musiekliefhebbers wanneer Johann Sebastian Bach se Magnificat en twee ander werke in die Etienne Rousseau Teater (ERT) opgevoer word.
Volgens Herman van Niekerk van ERT gaan daar gepoog word om ‘n Barok-milieu te skep. Die musikante, koor en sitplekke vir die gehoor gaan daarom almal op die verhoog ingepas word. “Die spesifieke plasing gaan ongelooflike akoestiek tot gevolg hê. Dit bring ook die gehoor en die kunstenaars nader aan mekaar. In Bach se tyd is daar nooit voor uitermate groot gehore opgetree nie en ook net met ‘n paar instrumente op ‘n slag. Ons gaan ook met die dekor se kleure en die beligting speel om die regte atmosfeer te skep. Ons gaan jou na die Barok tydperk verplaas,” sê Herman.
Vir die vertoning word slegs periode instrumente gebruik, almal oorspronklike of presiese replikas van die instrumente wat tydens die Barok tydperk gebruik is. Die groep spesialis musikante, onder leiding van die dirigent Norbert Brandauer van Salzburg in Oostenryk, het reeds op 7 Februarie in Suid-Afrika geland, waarna hulle by die Dome Arts Retreat buite Parys voorberei het. Hul bied slegs twee konserte in Suid-Afrika aan. Die eerste is by die Johanneskirche in Pretoria die Saterdag, met die finalé Sondag in Sasolburg. Herman is oortuig daarvan dat jy nie ‘n klassieke musiekkenner hoef te wees om die uitvoering Sondag te geniet nie. Bach se Magnificat spreek tot die siel en laat jou vir ‘n wyle van al die aardse en alledaagse stres en moeilikhede vergeet.
I



