Oud-Koevoetlid se lyk gevind, drie van Vaal steeds aangehou
Die uitgebreide soektog na die oud-Koevoetlid, Chris Barnard (54), wat in Desember in raaiselagtige omstandighede verdwyn het nadat hy met ‘n Vaaldriehoekse vrou bevriend geraak het, is beëindig nadat sy ontbinde lyk verlede week gevind is.
Barnard se liggaam is verlede Dinsdag deur ‘n voetganger in die Pienaarsrivieromgewing, digby die Wallmansthal-weermagbasis noord van Pretoria, ontdek. Hoewel die oorsaak van dood teen Vaalweekblad se saktyd nog onbekend was, is daar met sekerheid vasgestel dat die liggaam, wat in ‘n duvet toegedraai was, wel dié van Barnard is.
Hy is onder andere aan ‘n tatoeëring van sy dogter se naam op sy rug, sowel as ‘n tandheelkundige plaatjie in sy mond, uitgeken.
Barnard, ‘n geskeide man wat as terreinbestuurder vir ‘n Amerikaanse sekuriteitsonderneming in Irak gewerk het, sou die afgelope Desembervakansie in sy huis in Annlin, Pretoria deurbring terwyl sy suster en dié se man, wat sy huis by hom gehuur het, met verlof in Mosambiek was. Hy het baie daarna uitgesien om ‘n vriendin wat hy ‘n paar maande gelede op Facebook ontmoet het, me. Corné de Beer (33), in Vanderbijlpark te kom haal om ‘n paar dae saam met hom in Pretoria deur te bring.

van homself en sy Vaaldriehoekse Facebookvriendin,
Corné de Beer (33), aan sy familie gestuur het.
Gedurende dié tyd het hy ‘n foto van hom saam met die jong vrou aan sy familie gestuur, maar sy boodskappe het gou daarna ‘n vreemde wending geneem toe ongewone WhatsApp-versoeke van sy selfoonnommer af ontvang is om groot bedrae geld tussen sy bankrekeninge te verskuif. Sy familie het agterdogtig geraak en ‘n vriend gevra om ondersoek by hul huis in Pretoria in te stel, waar gevind is dat die huis leeggesteel en geplunder was.
Daar was geen teken van Barnard of sy voertuig nie. Sy familie het hom op 7 Desember as vermis by die Sinoville-polisiestasie aangemeld.
Duisende rand is glo na sy verdwyning uit sy bankrekening onttrek. ‘n Intensiewe soektog deur die polisie en die private ondersoekdiens van Mike
Bolhuis en Nolisat Investigations is op tou gesit, waarna die analisering van selfoondata die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei het. Die jong vrou, Corné de Beer, is op 24 Desember in verband met die saak in hegtenis geneem. Die arrestasie van nog twee verdagtes, Richardt “Jagter” Botha (35) en Wayne van der Walt (35) het op 30 Desember gevolg.
Barnard se voertuig sowel as van sy persoonlike besittings is glo in van die verdagtes se besit gevind. Al drie verdagtes is van die Vaaldriehoek. Hulle word aangehou en sal weer op 21 Februarie in die landdroshof in Pretoria- Noord verskyn, waarna die saak waarskynlik na die hooggeregshof oorgeplaas sal word.
Oud-polisiekolonel Vince Harris, wat deel van die private ondersoekspan was en die afgelope weke nou saam met die polisie gewerk het, het die grootste lof vir luit. kol. Alet Pratt van die Sinoville-polisie vir haar en haar span se uitstekende ondersoekwerk. “Die publiek kan verseker wees dat daar nog baie toegewyde polisiemanne en -vroue in die SAPD is,” sê hy. * Volgens Barnard se professionele Linkedin-profiel was hy gedurende die bosoorlog in Namibië en Angola aan Koevoet, die polisie se spesiale taakmag, verbonde.
Hy het in 2006 in Bagdad in die Midde-Ooste begin werk en konvooie tussen Koeweit en die weermagbasis in Irak begelei. Hy het sedert November 2017 as sekuriteitsbestuurder in Irak gewerk.
‘n Gedenkdiens vir Barnard word Saterdag, 15 Februarie, om 11:00 by die Centurion-teater in Lyttleton Manor, Centurion, gehou. Hy word buiten sy ander familielede, ook deur sy bejaarde ouers oorleef.



