‘n BYLAE TER HERINNERING AAN DIE HOëRSKOOL DRIEHOEK SE BRUGTRAGEDIE, ‘N JAAR GELEDE, IS OP 5 FEBRUARIE 2020 IN VAALWEEKBLAD SE PAPIERUITGAWE GEPUBLISEER.
OP VERSOEK VAN DIE BETROKKENES SE FAMILIES OF ANDER LESERS VAN BUiTE DIE VAALDRIEHOEK, WAT NIE DAARDIE UITGAWE KON KOOP NIE, PLAAS ONS VAN DIE BERIGTE OP VAALWEEKBLAD SE WEBWERF.
Retha Fitchat
1 Februarie 2019 is ‘n datum wat die skoolgemeenskap van die Hoërskool Driehoek liefs sou wou vergeet, maar die loopbrugtragedie wat dié dag tot die dood van vier kinders en die besering van meer as 20 gelei het, is nou lewenslank in die land se kollektiewe geheue ingebrand.
Roydon Olckers, Marli Currie en Jandré Steyn het op die toneel gesterf. Vaalweekblad het die aand van 1 Februarie 2019 berig dat Marnus Nagel, Cheverné Duvenhage, Vanessa Slabbert en Clari Botes se toestand uiters ernstig was. Op Sondag, 3 Februarie 2019, moes Vaalweekblad met hartseer berig dat Marnus sy stryd verloor het.Intussen is nóg kinders in wisselende grade van erns in die hospitaal behandel, onder wie Shamoné Steynvaart, Clarice Peens, Chantelle van den Berg, Nicole Nel, Hillmar Engelbrecht, Geneve Viana, Jenifer Bothma, JuanLee Muller, Monya Pelser, Jennifer Delport, Jacques Fourie, Carla Pretorius, Thokozani Nkosi, Melita Weber, Jessica Rabovski, Nico Barnard, Sifiso Tshabalala, Annastacia Opperman, Angelique Smit en Nico Barnard. Nóg beseerdes, wat self deur hul ouers na hul privaatdokters geneem is en nie in ‘n hospitaal opgeneem is nie, se name is nie almal hierby ingesluit nie.
Van die beseerdes moes maande lank hospitaalbehandeling kry of is later na rehabilitasiesentra oorgeplaas voordat hulle weer kon begin om hul lewe so normaal as moontlik tuis te hervat.Hoewel meeste van die beseerdes se ergste wonde geheel het en hulle fisies goeie vordering maak, getuig meeste ouers met wie Vaalweekblad die afgelope week gesels het, dat daar nog ‘n lang pad voorlê. In baie gevalle verduur die beseerdes nog baie pyn en ongemaak. Die fisiese beserings was egter makliker behandelbaar as die psigiese wonde, sê baie ouers. Van die kinders ly aan posttraumatiese stresversteuring en depressie, en kry nog gereeld angsaanvalle en terugflitse.Dit is ook nie net dié wat direk deur die tragedie geraak is, wat aan die nagevolge ly nie. Van die skool se onderwysers en ander ouers en leerlinge, sowel as die algemene publiek getuig daarvan dat hulle die gebeure ook steeds moeilik verwerk, nagmerries kry of dikwels depressief daaroor voel.
Die gebede en belangstelling van die publiek het baie van die beseerdes en hul ouers deur die eerste moeilike jaar gedra. “Ek dink as julle almal net kan besef die waardering en dankbaarheid wat ons vir elkeen van julle het. Julle almal se gebede het ons dogter se lewe gered, en dis woorde uit die mond van my kind se dokter. Dalk sal ons eendag ons storie kan deel… Vir nou is dit nog te rou maar God was ons genadig: Ons het ‘n wêreld gehad wat saam met ons kon bid,” sê mev. Lizelle Slabbert, ma van die beseerde Vanessa.
Foto onder: Vanessa Slabbert (18), een van die leerlinge wat stadig maar seker liggaamlik en psigies genees van die ernstige beserings wat sy in die brugtragedie opgedoen het. Sy moes lank na die voorval nog met ‘n rolstoel oor die weg kom en moes haar skoolloopbaan by Shalom Akademie voortsit omdat sy daar meer mobiel kon wees as op ‘n normale skoolterrein. Hoewel sy na die ongeluk net twee volle kwartale op skool was, het sy haar matriek goed geslaag.




