Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Retha Fitchat
“God sou Jandré en die ander drie kinders nie vat as dit nie deel van ‘n groter plan was nie – ons aanvaar dit so. Al die hartseer wat ons nou deurgaan, is net tydelik.
”Dit is die woorde van Anzel Steyn, ma van Jandré (14), wat in die brugtragedie gesterf het. Dit was ‘n moeilike jaar vol beproewings vir die Steyns, maar deur dit alles sien hulle ook die talle wonderwerke en baie genade van Bo.
Die eerste terugslag het hulle reeds op 6 Desember 2018 getref toe mnr. Jan Steyn drie hartaanvalle in een aand gehad het. Jan se kardioloog het reguit gesê sy oorlewingskans was skraal, maar hy het wonderbaarlik oorleef. Jandré was daardie hele Desember sy pa se skaduwee en was intensief by Jan se rehabilitasie betrokke. Hoewelnpa en seun nog altyd baie geheg was aan mekaar, het hulle daardie Desember nader as ooit aan mekaar gekom.
En toe kom 1 Februarie 2019. Jandré se ouer suster, Janishka, was net een meter voor die loopbrug toe sy sien hoe dit onder haar maats meegee, min wetend dat haar broer op dieselfde oomblik onder die brug was. Jandré het op slag gesterf, maar in die opvolgende chaos het sy gesin ure lank na hom gesoek, onbewus daarvan dat hy een van die slagoffers was.
Die volgende weke is in ‘n waas van hartseer gehul,maar dié diepgelowige gesin, Jan, Anzel, Janishka en ousus Sintiché, het soos altyd saamgestaan en ‘n sterk eenheid gevorm, al was Jandré in die vlees nie meer by hulle nie. Te midde van die rouproses was daar nóg ‘n uitdaging. Janishka moes ondanks haar hartseer deur matriek kom. Sy was so getraumatiseer dat sy aanvanklik nie ‘n oomblik weg van haar ouers wou wees nie. In die eerste twee weke nadat die skool in die tentklasse heropen het, moes Anzel en Jan deurgaans in hul voertuig buite die skoolterrein sit waar sy hulle kon sien. “Ons het maar elke dag ‘n piekniekmandjie gepak en ure lank vir haar gesit en wag,” sê Anzel.
Die skoolgebou is mettertyd veilig verklaar en die kinders kon na die klaskamers terugkeer, maar vir Janishka het dit ondraaglike angs veroorsaak. Sy kon nie naby die skoolgebou kom nie. ‘n Kliniese sielkundige het aanbeveel dat sy liewer tuis onderrig moes word en net skool toe gaan om toetse en eksamens te skryf. Dit was moeilik om die klaswerk by haar onderwysers te kry en dit was gou duidelik dat sy begin agter raak het met die werk.
“Terugskouend moes ons haar dalk na ‘n ander skool laat oorplaas het, maar dit was moeilik vanweë haar ongewone vakkeuses,” sê Anzel. Janishka het ‘n verdere emosionele terugslag beleef en sekondêre trauma opgedoen. Danksy intensiewe berading, medikasie en deurlopende ondersteuning van haar ouers en sus Sintiché, het dié vasberade meisie opgestaan, voortgebeur en uiteindelik haar matriek met uitstekende simbole en universiteitsvrystelling geslaag. “Ons is so trots op Janishka dat sy haar matriek onder dié moeilike omstandighede geslaag het,” sê Anzel.Dit was egter nie die einde van die Steyns se beproewing nie.
Op 6 November verlede jaar is hulle wéér voor ‘n lewe-en-dood situasie gestel toe Jan ‘n bloedklont deur die long gekry het en per noodhelikopter na die Milpark- hospitaal vervoer is. Anzel en haar skoonma is dadelik in die motor daarheen, maar skaars ‘n kilometer voor die hospitaal was hulle in ‘n ongeluk betrokke. Hul motor is afgeskryf en paramedici kon nie glo dat iemand lewend uit die wrak kon kom nie. Tog het Anzel net met ‘n paar skrape en haar skoonma slegs met ‘n gebreekte polsgewrig daarvan afgekom. Jan het die afgelope maande goed herstel, hoewel ‘n operasie later vanjaar vir hom voorlê.
“Ondanks alles wat gebeur het, het ons geen rede om ons rug op God te draai nie. Die lewe is ‘n marathon wat ons tot eer van die Here hardloop. Jandré het syne reeds voltooi en die eindstreep suksesvol behaal. Dis alles deel van die oorwinning en ‘n groter plan,” sê Anzel.
Janishka Steyn, wat die brugramp ‘n meter voor haar sien afspeel het en wie se broer, Jandré, gesterf het, het haar matriek met uitstekende simbole geslaag ondanks ernstige post traumatiese stres, angs en depressie. Hier is sy op haar matriekafskeid.



