Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Retha Fitchat
Hoewel Shamoné Steynvaart (15) verlam is weens die Driehoekramp en sy ook steeds heelwat pyn verduur weens die nasleep van ‘n slegte breuk in haar linkerpolsgewrig, meen sy haar emosionele seer is erger as haar fisiese beserings.
Shamoné het ‘n spinale besering in haar laerug opgedoen toe die loopbrug op 1 Februarie 2019 geval het. Dié vriendelike tiener het in die afgelope jaar etlike maande in die hospitaal en in ‘n rehabilitasiesentrum deurgebring. Danksy die opleiding wat sy daar ontvang het, is sy vandag heel rats in haar rolstoel.
Sy moes in Desember weer ‘n operasie aan haar beseerde pols ondergaan maar kon vanjaar reeds weer haar skoolloopbaan voortsit. Sy is nou ‘n graad 10-leerling aan Impaq Shalom Akademie in Vanderbijlpark, waar sy makliker met haar rolstoel kan rondbeweeg as tussen klaskamers by Hoërskool Driehoek. Hoewel Shamoné se fisiese beserings en verlies aan mobiliteit haar hele lewe verander het, is dít vir haar meer draaglik as die verlange na haar vriendin, Marli Currie, saam met wie sy onder die loopbrug gestap het toe dit val. Marli het op slag gesterf en Shamoné is so erg beseer dat daar aanvanklik vir haar lewe gevrees is.
“Ek mis Marli steeds so baie,” sê sy.
Shamoné kan min van 1 Februarie 2019 se gebeure onthou en het einde verlede jaar ‘n nuwe traumategniek saam met haar begeleier begin beoefen in ‘n poging om haar onderbewussyn te stimuleer om beter te onthou. Sy glo dit sal haar help om die trauma beter te verwerk as sy meer van die dag se gebeure kan herroep. Shamoné word nie verniet deur baie Driehoek-leerders as die “dapperste brugbeseerde” beskou nie. Sy dra ondanks die pynlike gebeure ‘n lewensblyheid in haar hart en glo ‘n mens kan selfs in negatiewe omstandighede die beste van ‘n saak maak. Shamoné sal graag eendag met mense wil werk wat in ‘n soortgelyke situasie as sy is om vir hulle hoop te gee dat jy steeds kan doen en bereik net wat jy wil.




