NewsNews

Carla behaal 6 A’s ondanks brugbeserings

Hoërskool Driehoek-brugramp - Een Jaar Huldeblyk

Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk

Retha Fitchat

Die een oomblik het Carla Pretorius, toe ‘n matrikulant aan Hoërskool Driehoek, nog ingedagte oor die loopbrug gestap en aan ‘n toets gedink wat sy die volgende periode moes skryf. Die volgende oomblik het sy gevoel hoe die brug se loopvlak onder haar padgee.“Daar was geen waarskuwingsgeluid nie.
Dit het vir ‘n oomblik gevoel of ek sweef voordat ek die grond getref het. Alles het in ‘n sekonde gebeur,” onthou Carla.Sy het bo-op die brug gelê en te midde van die paniek, die gille en chaos wat gevolg het, probeer opstaan. Hoewel sy nie dadelik intense pyn gevoel het nie, het sy gesukkel om te loop en kon net met moeite in die rigting van die kantoor voortskuifel. Sy het vermoed dat sy haar enkel verstuit of ligamente geskeur het. Dit was eers agterna dat daar vasgestel is dat sy drie slegte beenbreuke opgedoen het.
Nadat Carla haar ma van ‘n vriendin se selfoon af gebel het om te sê sy het seergekry, was albei haar ouers, Hannes en Eulanie Pretorius, binne minute by die skool. Sy kon in daardie stadium nie meer op haar linkervoet trap nie en haar ouers het besluit om haar sommer self dokter toe te neem eerder as om vir die paramedici te wag, wat in daardie stadium reeds begin het om kinders wat die ergste beseer is, te behandel.
X-strale het getoon dat Carla se linkerenkel op drie plekke gebreek was en dat ‘n operasie dringend gedoen moes word om die breuke met skroewe te heg. Haar enkel het so erg begin swel dat haar denim oopgesny moes word om dit te kon uittrek. Sy moes uiteindelik twee weke wag dat die swelling sak voordat die operasie uitgevoer kon word.Drie maande van pyn en ongerief het gevolg terwyl sy met ‘n “moonboot” oor die weg moes kom, en in November moes sy weer ‘n operasie ondergaan om die skroewe te verwyder.
Carla, wat op skool ‘n netbalspeler was, sal nooit weer aan impaksport mag deelneem nie en sy ervaar steeds heelwat ongemak omdat haar enkel by tye steeds erg swel.
Hoewel sy nog gereeld terugflitse van die gebeure kry, het dié fyngeboude rooikoppie nie toegelaat dat die brugtragedie tussen haar en goeie matriekuitslae staan nie. Sy het onderskeidings in ses van haar sewe vakke behaal en het pas met haar studies aan die Universiteit van Pretoria begin, waar sy haar graag eendag as ‘n neuroloog of kankerspesialis wil bekwaam.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button