Versterkte ‘Phoenix-brug’ in minder as twee maande herbou
Hoërskool Driehoek-brugramp - Een Jaar Huldeblyk
Eerste publikasie op 5 Februarie 2020 in Vaalweekblad se HS Driehoek-huldeblyk
Retha Fitchat
Vandag, ‘n jaar na die ramp, is dit vir baie Driehoek-leerders en personeellede steeds angswekkend om oor of onder die nuutgeboude loopbrug te stap. Dit gee wel gemoedsrus dat drie sertifikate van goedkeuring deur strukturele ingenieurs uitgereik is om te verklaar dat die herboude brug aan die hoogste veiligheidstandaarde voldoen.In die dae direk na die tragedie het ArcelorMittal Suid-Afrika dadelik ‘n span kundiges, insluitend werknemers, kontrakteurs en ander plaaslike ondernemings, byeengeroep om die brug so vinnig as moontlik te herbou. Dié staalvervaardiger se Vanderbijlparkwerke het die sloping van die ou brug gekoördineer en die nuwe struktuur met behulp van die argitekte, Swart en Vennote, ontwerp. ArcelorMittal het kontrakteurs aangestel om die konstruksie van die nuwe brug te behartig, en het ook hulp met ander herstelwerk by die skool verleen. Altesame 15 ton staal is vir die konstruksie van die nuwe brug gebruik. Die totale koste van die herbouing is tot vandag toe onbekend. “Die bedrag is nie belangrik nie. Al wat belangrik is, is dat die leerlinge weer kan terugkeer na die skoolgebou,” het mnr. Werner Venter, senior bestuurder van die Vanderbijlparkwerke, op 23 April 2019 tydens die opening van die nuwe brug, gesê.Hy het plaaslike ondernemings, waaronder SGB Cape, die Dickinson Group, Spec-con, Ind-Lite, Delta Cranes, Vanderbijlpark Hydraulics & Engineering, Krupp Engineering en Hage Projects & Consultants, asook ander wat versoek het om anoniem te bly, vir hul betrokkenheid by die herbouingsprojek bedank. Baie personeellede van dié instansies het soms deurnag gewerk om die brug in minder as twee maande te herbou.“Ons hoop die nuwe loopbrug sal genesing meebring en die onderwysers en leerders in staat stel om ná hierdie tragiese gebeurtenis vorentoe te beweeg,” was ArcelorMittal se boodskap.Die Gautengse minister van onderwys, Panyasa Lesufi, het by die amptelike opening gesê die nuwe loopbrug simboliseer die “oorbrugging” van die hartseer verlede na ‘n nuwe toekoms. Hy het ook die Departement van Onderwys se verbintenis om geldelike hulp te voorsien vir die betaling van beseerde kinders se mediese rekeninge, bevestig.Mnr. Jacques Marx, voorsitter van Hoërskool Driehoek se beheerliggaam, het gesê as hy ‘n naam vir die brug moes gee, sou dit die Phoenix-brug wees omdat dit soos die mitologiese voël, uit die as opgestaan en herleef het.



