Atletiek kraai koning!
VANDERBIJLPARK. – Op Woensdag, 19 Februarie was daar reeds van vroeg af ‘n bedrywigheid in en rondom Laerskool Totius. Sewe skole se atlete (Frikkie Meyer, Totius, Vesco Akademie, Sancta Maria Convent, Emfuleni Primary School, Makapani Primary en Seeso Primary) het by die skool saamgetrek vir hul sirkel se jaarlikse interlaer atletiek byeenkoms.
Die parkeerarea rondom die skool was algou tot boordens vol en dit was verblydend om te sien hoeveel ondersteuners het ook die dag bygewoon. Nog lekkerder was om te sien met hoeveel geesdrif die onderwysers en ouers die jong atlete aangemoedig het. Teen half 9 het ‘n feestelike atmosfeer geheers. Vrolike musiek het gespeel en onder die bome is wors gebraai en allerlei kos verkoop. Totius se hoenders, Chicken en Licken en hul tiener-kuikens, het gesorg hulle het skropplek naby die koskiosk vir die dag.

Op die pawiljoene was die gewone gedruis van ‘n skare jongelinge wat lekker gesels en kort-kort opspring om hul skool se atlete luidkeels aan te moedig. Langs die veld was oumas en oupas op kampstoele om ‘n oog oor die aktiwiteite te hou en ouers met selfone in die hand was reg om die jonge atlete af te neem. ‘n Paar babas in stootkarretjies was min gepla met al die lawaai en aksie om hulle en so hier en daar het ‘n kleuter opgewonde rond gedans as boetie of sussie deelneem.
Duskant van die veld was die baanbeamptes doenig om die woelige naelloop atlete in gelid en regte volgorde te kry. Die vinnige jongelinge is nie gemaak vir stilsit nie…
Die verspring atlete was besig met hul uitdunne. Hardloop, vasstrap, deur die lug trek en land dat mens net sien sand spat. ‘n Paar ouers het van die kant af raad gegee.

Die groot ou bome het vir die hoeveelste maal na die gewigstoot reëls geluister. Oor die dekades het menigte seuns en dogters al hier vanuit die sirkels die sware gewigte so ver as moontlik gestoot. Is daar vele rekords en harte gebreek as jong atlete nie heeltemal hul verlangde prestasies behaal het nie.
Die dag was goed georganiseer. As daar enige krisisse was, dan was dit nie in die algemeen te bespeur nie. Die progam was op tyd, die beamptes geduldig en die atlete het dit geniet. Daar was items waar slegs een kind deelgeneem het, en dan is die atleet met dieselfde entoesiasme toegejuig as wanneer die baan vol was.

Vir elke atleet, van die heel kleinstes wat vir die eerste keer aan interlaer deelgeneem het, tot by die o13s wat vir oulaas hul laerskole verteenwoordig het, baie geluk. Hou so aan!
Vir al die baanbeamptes en die onderwysers wie se stemme sekerlik hees was na al die “gaan sit nou dadelik weer op die pawiljoen!” en die “waar dink jy gaan jy heen?” in verskeie van ons landstale, baie dankie. Dankie vir jul tyd en opoffering. Dankie vir elke keer wat jul ‘n kind aangemoedig het en ook bemoedig het al was die kind van ‘n ander skool. Julle maak atletiek vir die kinders en ouers lekker, al (en hier moet die redakteur my vergewe, ek gaan afwyk van koerantskryf reëls) dink ek steeds julle moet hulle weer “jamblikke, visblikke, drie by drie. Ons is, ons is, weet julle wie?” leer.



