IFM102.2 Melody-toekennings vereer Saterdag die legendariese Maritza
Sy sing Sondag ten bate van behoeftiges in Vereeniging
VEREENIGING. – Maritza, een van Suid-Afrika se gevierde Country-sangeresse, tree op Sondag, 8 Maart by Brandmuller-kwekery op as deel van die Tree Owl Market, die radiostasie IFM 102.2, en die koerante Ster en Vaalweekblad se gemeenskaplike projek om geld vir behoeftiges in te samel.
Maritza gaan by dié geleentheid ook haar nuwe CD bekendstel en saam met Gerrie Snyman, ‘n meester op die “pedal steel”-kitaar, optree.
In die 1970’s, gedurende Maritza se jare as student aan die Universiteit van Pretoria, het sy met haar Grenstoere begin. Aanvanklik het sy net op basisse naby Pretoria gesing, maar toe brei dit uit na 70 weke op die Grens! Haar langspeler, Koemadoe, is in 1980 opgeneem en die titellied het haar grootste treffer ooit geword. Maritza was daarna die eerste Afrikaanse sangeres wat vir ‘n Artes benoem is. Toere regoor Suid-Afrika en Namibië het saam met musieklegendes soos Hansie Roodt, Paul Ferns en Sias Reyneke gevolg en sy het deur die jare ook al by vele musiekfeeste saam met die grootste name in die Country-bedryf in Suid-Afrika opgetree.
* Buiten vir haar optrede Sondag, gaan Maritza ook op Saterdagaand, 7 Maart, by die IFM102.2 Melody-toekennings vir Country Musiek in Vanderbijlpark te sien wees, waar sy met ‘n Legende-toekenning vereer gaan word.
Die Melody-toekennings word in Vanderbijlpark gehou. Luister gerus na Marius de Vos se program op IFM102.2 vir verdere inligting of skakel Ria by 074 522 9752 om jou plek by die toekennings te bespreek.
Vir meer besonderhede oor Maritza se optrede op 8 Maart by Brandmuller, skakel Michele by 083 378 0715.
Maritza, wat deur baie onthou sal word as die “troepiesangeres” uit die 1980s.



