Nostalgiese era herleef by ERT met Simon & Garfunkel se treffers
“Here’s to You” word op Donderdag 12 Maart (19:00), Vrydag 13 Maart (19:00) en Saterdag 14 Maart (middagvertoning om 15:00) by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg aangebied. Besprekings kan gedoen word by Computicket.
Retha Fitchat
Wie sou nou kon raai dat ‘n sanggroep met die naam Tom & Jerry uiteindelik een van die wêreld se bekendste duo’s sou word? Dit was die aanvanklike naam waaronder Paul Simon & Art Garfunkel as skoolseuns in die 1950’s gesing het voordat hulle in die Sestigerjare wêreldbekend geword het.
Hoewel Simon en Garfunkel se sangloopbaan gekenmerk was deur vurige rusies en hul paaie in 1970 geskei het, het hulle van die mooiste folk-rock-musiek in die wêreld geskep.Dink maar aan tydlose treffers soos The Sound of Silence (1965), Mrs Robinson (1968) en Bridge Over Troubled Water (1970).In 1981 het die sangpaar kortstondig herenig vir “The Concert in Central Park” in New York, wat deur 500 000 mense bygewoon is – die grootste getal toeskouers wat nog ooit gelyktydig by een musiekkonsert was.Vaaldriehoekse aanhangers van dié sangpaar kry later die maand ‘n geleentheid om na hul musiek in die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg te kom luister, soos wat dit deur ‘n groep van agt uitmuntende kunstenaars vertolk gaan word.
Die produksie, Here’s to you – The Simon & Garfunkel Songbook, is sedert verlede jaar by die Montecasino-teater in Sandton op die planke gebring, waar dit gloeiende resensies uitgelok en duisende toeskouers daarheen laat stroom het. Die Suid-Afrikaanse aanbieders, VR Theatrical, neem die produksie tans op ‘n landwye toer na die grootste stede in Suid-Afrika, en die Etienne Rousseau-teater is bevoorreg om ook in die toerprogram ingesluit te wees – ‘n heerlike bederf vir alle Vaaldriehoekse musiekliefhebbers!
Agt besonder talentvolle kunstenaars, onder musiekregie van Wessel Odendaal, tree in die produksie op en word gelei deur Josh Ansley (The Voice SA 2017) op kitaar, met Ashleigh Butcher wat die kitaar, ukulele en baskitaar speel, Daniel Geddes op klawerborde en kitaar, die Suid-Koreaansgebore musiekonderwyseres Hanna So op klavier, viool en tjello, Justin Swartz op cajon en perkussie, Sanli Jooste op tjello, en die sangeres Phindile Dube (Top Vier-finalis in Idols 2017) op slaginstrumente.
“Here’s to You” word op Donderdag 12 Maart (19:00), Vrydag 13 Maart (19:00) en Saterdag 14 Maart (middagvertoning om 15:00) by die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg aangebied. Besprekings kan gedoen word by Computicket.
Daar is spesiale afslag vir pensioenarisse, kinders, studente en blokbespreking van 10 of meer kaartjies. Hierdie is een van vanjaar se spogvertonings by ERT wat beslis nie misgeloop mag word nie! Skakel ERT by (016) 065 0022 vir meer besonderhede.



