Local newsNewsNews

Vanderbijl se verlamde Downsindroom-seuntjie stort nou te lekker

VANDERBIJLPARK. - “Ek het altyd gesukkel om Kegan in die bad te kry, maar nou is dit nie meer ‘n probleem nie, hy is mal daaroor om te stort.”

Dit is die woorde van ‘n baie dankbare ma wat voorheen gesukkel het om haar 12-jarige verlamde
Downsindroom seuntjie Kegan, te bad. Behalwe vir die feit dat dit moeilik was om hom op te tel tot in die bad, hou die klein mannetjie sommer baie meer van stort as bad.
“As ek sê dit is badtyd, kom hy nou dadelik nader,” vertel ma Krystle Claasen. Vaalweekblad het onlangs
berig oor hoe daar gesukkel word om Kegan in die bad van die gesin se laekostebehuising-woning te kry.
Toe plaaslike sakeman Gerhard Kruger van River Meat Deli daarvan lees, het hy dadelik sy vriend,
Gerhard Snyman van Brick & Steel genader.
Die twee Gerhards het intussen die hele badkamer laat oordoen. Daar is vier dae lank gewerskaf om die
badkamer ‘n “makeover” te gee.
“Hulle het nie net ‘n stort ingesit nie, hulle het sommer die hele badkamervloer laat teël en die mure is
geverf,” vertel Krystle. “Ek bedank hulle albei uit my hart. Die badkamer
lyk amazing en ons waardeer dit opreg.”
Hope for Outreach het ook oor Kegan se situasie gelees en twee pakke doeke en kospakkies geskenk.
Daar was ook paar mense wat los pakkies doeke geskenk het.
“Ons waardeer dit so baie. Dit maak Kegan se daaglikse lewe soveel beter. Ek is so dankbaar vir ‘n
gemeenskap wat soveel liefde betoon en omgee,” sê Krystle.
* Indien daar nog weldoeners is wat dalk die gesin wil ondersteun, veral met doeke vir Kegan, kan Krystle by 060 935 3619 gekontak word.

Kegan (12) en ma Krystle in die ou badkamer toe badtyd nog ‘n gesukkel was. Foto: Elsje Vermeulen

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button