FW se gholfstokke (en ander memorabilia) by Vaal Teknorama te sien
VEREENIGING. - Allerlei interessanthede uit die oud-president en Nobelpryswenner, mnr. FW de Klerk se lewe, insluitend sy heel eerste stel gholfstokke wat hy in 1964 aangeskaf het, word steeds by die Local Leaders’ Hall by die Vaal Teknorama in die stad uitgestal.
Die oud-president en oud-inwoner van die Vaaldriehoek was glo gek oor dié sport en het blykbaar gereeld op Maccauvlei gespeel, vertel ’n gids by die Teknorama- museum.
Die gholfstokke en foto’s is maar ’n paar van die interessante staaltjies uit die oud-staatshoof se lewe wat jy by die Vaal Teknorama sal aantref.
Die Local Leaders’ Hall, wat destyds as die FW de Klerk Hall bekend gestaan het, is amptelik in 1988 deur sy voormalige vrou, wyle mev. Marieke de Klerk, geopen. Die museum is jare later herdoop na Local Leaders’ Hall om ook erkenning te gee aan ander leiers wat ’n rol gespeel het in die geskiedenis van Sedibeng.

By die museum is daar ook ’n skaakstel uit hout en porselein wat FW destyds tydens ’n ampsbesoek aan Rusland as geskenk gekry het, ’n ornamentele pot wat hy by pres. Hosni Mubarak van Egipte as geskenk gekry het, ’n stel olifanttande wat hy by Koning Goodwell-Zwelithini ontvang het en talle foto’s en stories uit die oud-staatshoof se lewe en ampsbesoeke aan die buiteland.
Daar is selfs meubels en ’n ou klavier by die Vaal Teknorama se ander gedeelte (Sedibeng Heritage Hall) wat eens aan dié wêreldbekende Vaaldriehoeker behoort het.
Die artefakte wat by die Teknorama uitgestal word, is deur FW en Marieke aan die Vaal Teknorama geskenk. Een van die belangrike memorabilia wat jy nie daar sal aantref nie, is die Nobelprys vir Vrede wat FW in 1993 gesamentlik saam met wyle oud-president Nelson Mandela ontvang het vir hul werk vir die vreedsame beëindiging van die apartheidsregering en vir die grondslag van ‘n nuwe demokratiese Suid-Afrika.
Volgens die museumgids is die Nobelprys uit die museum verwyder uit vrees dat dit daar gesteel sou word.
Die museum in Beethovenstraat in Duncanville is van Maandae tot Vrydae oop. Skakel (016) 450 3030/1/2 vir meer inligting.



