NewsNews

NIE VIR SENSITIEWE KYKERS NIE: Beeldmateriaal van ongeluk waarin vrou sterf

Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK – Daar bestaan steeds meer vrae as antwoorde nadat beeldmateriaal aan die lig gekom het van die tragiese motorongeluk waarin die 43-jarige Johanita Ehlers die naweek haar lewe verloor het. Die ongeluk het op die hoek van Frikkie Meyer  Boulevard en Klasie Havenga straat oorkant Park Ford plaasgevind. Ehlers-hulle se Wit …

Ettienne van Rensburg

VANDERBIJLPARK – Daar bestaan steeds meer vrae as antwoorde nadat beeldmateriaal aan die lig gekom het van die tragiese motorongeluk waarin die 43-jarige Johanita Ehlers die naweek haar lewe verloor het.

Die ongeluk het op die hoek van Frikkie Meyer  Boulevard en Klasie Havenga straat oorkant Park Ford plaasgevind. Ehlers-hulle se Wit Audi S5 Quattro het ‘n boomstomp op die sypaadjie getref, waarna dit deur die heining van die Emfuleni Munisipaliteit se kantore gebars het en op sy dak tot stilstand gekom het.

Daar is aanvanklik berig dat sy alleen in die voertuig was, maar haar man, mnr. Mike Ehlers (49) het bevestig dat ‘n werkskennis, ‘n Nigeriese man wat net as Eddie aan hom bekend is, ten tyde van die ongeluk saam met haar in die wit Audi S5 Quattro V8 was. Sy het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit ‘n boomstomp op die sypaadjie getref, deur die heining gebars en op sy dak te lande gekom het.

“Ons vermoed sy is uit die kar geslinger, want sy het 10 meter van die wrak gelê. Ek kan nie verstaan hoe sy by daardie kruising uitgekom het nie.
“Sy en Eddie het na die winkel in Evereststraat gery. Hoekom en hoe sy daar opgeëindig het, is vir ons ‘n raaisel. Iets maak nie sin nie. Daar is ook geen kruideniersware in die kar gevind nie. Iets “freaky” moes gebeur het,” sê mnr. Ehlers. “Wat my baie ontstel, is dat ons vir drie ure op die toneel moes wag vir haar liggaam om verwyder te word,” het ‘n bewoë Ehlers aan Vaalweekblad gesê.

Dit is ook onduidelik waarom die passasier die ongelukstoneel verlaat het, maar volgens mnr. Ehlers is hy met ‘n ribbesering in die Sebokeng-hospitaal opgeneem. Dit kon teen druktyd nie bevestig word nie. Volgens ‘n oogetuie wat die ongeluk gesien gebeur het, het die wit Audi uit Evereststraat in Frikkie Meyer-boulevard ingedraai en teen ‘n hoë snelheid die draai ingegaan en beheer verloor.

“Ons was eerste op die toneel en het ‘n man by die bestuurder se kant sien uitklim met die vrou se handsak. Hy het geskreeu dat ‘n ambulans ontbied moet word. Sy (Johanita) het sowat 10 meter verder agter die voertuig gelê,” het die ooggetuie, wat versoek het om anoniem te bly, gesê
* Johanita was ‘n apteker-assistent by Sussmans Apteek in Vanderbijlpark. Sy laat haar man Mike en twee seuns, Steven en Damian, agter.
“Sy was ‘n bekende en geliefde persoon. Sy het almal altyd gehelp en haarself te kort gedoen vir ander. Ons sou vanjaar ons elfde huweliksherdenking gevier het,” het Ehlers gesê.

 

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add vaalweekblad as a Preferred Source on Google and follow us on Google News to see more of our trusted reporting in Google News and Top Stories.

Related Articles

 
Back to top button