NewsNews

Koronavirus: nog geen gevalle in Vaaldriehoek aangemeld nie

VEREENIGING. - Hoewel talle Suid-Afrikaners reeds met die gevreesde Covid-19 virus gediagnoseer is sê hospitale in die Vaaldriehoek dat daar tot dusver nog geen sulke gevalle plaaslik was nie.

Mediclinic se bestuurder van korporatiewe kommunikasie, Tertia Kruger, het vroeër vandeesweek aan Vaalweekblad gesê dat daar tans geen bevestigde gevalle van die koronavirus by Mediclinic Vereeniging is nie.
“In ooreenstemming met die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en die nasionale departement van gesondheid se protokolle, het Mediclinic die nodige maatreëls in plek om enige pasiënte met simptome te bestuur en om die moontlike oordrag van die virus in ons fasiliteite te voorkom.
“Ons doen ‘n beroep op die publiek om die nodige voorsorgmaatreëls te tref as hulle na die betrokke geaffekteerde gebiede gereis het en griepsimptome ervaar.
“Ons moedig ook almal aan wat tekens en simptome van griep ervaar of dink dat hulle moontlik aan die virus blootgestel is, om hul geneesheer te kontak,” het Kruger in ’n verklaring gesê.
André Joubert, bestuurder van Midvaal Privaathospitaal, het by navraag gesê dat daar by dié hospitaal ook nog geen gevalle was nie.
“Tot op hede was daar nog geen bevestigde gevalle van die koronavirus gewees nie.
“Ons het wel planne in plek vir wanneer dit sou gebeur in ooreenstemming met die departement van gesondheid se voorskrifte.
Joubert sê dit is belangrik dat inwoners wat na die buiteland gereis het en griepagtige simptome het, hul geneesheer moet gaan sien.
Die geneesheer of hospitaal sal toesien dat die nodige toets gedoen word en die regte maatreëls ingestel word om die verspreiding van die virus te voorkom. “Soos enig griepvirus, is dit ook behandelbaar,” sê Joubert.
Intussen word mense aangeraai om gereeld hul hande te was en nie aan hul gesigte te vat nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button