Editor's noteHealthNationalNewsBreaking News

Suid-Afrika het glo sy eerste twee sterftes weens die Koronavirus

Man van Noord-Kaap se hartroerende boodskap nadat sy vrou vermoedelik aan Covid-19 sterf

 

Twee vroue – een van Durbanville en een van Warrenton, is sover bekend die eerste Suid-Afrikaners wat tot dusver weens die Koronavirus gesterf het.

Volgens Netwerk24 het me. Madeleine van Wyk vanoggend (Vrydag 27 Maart) in Mediclinic Durbanville aan die Covid-19-virus gesterf. Sy is reeds Maandag in die hositaal opgeneem. Haar man het aan Netwerk24 gesê hulle weet nie waar sy die virus opgedoen het nie. Sy het verlede week begin siek voel en is dokter toe maar die medikasie het nie gehelp nie. Sy is Maandag weer dokter toe en is toe in die hospitaal opgeneem, waar sy vanoggend beswyk het.

(Foto – Netwerk24)

**********************************

‘n 48-jarige vrou van Warrenton, mev. Annetjie Carsten, het glo in ‘n hospitaal in Kimberley gesterf. Sy het Dinsdag siek geword en is deur haar man en dogter hospitaal toe geneem.

Haar man het in die onderstaande boodskap op hul Whatsapp-kerkgroep gesê die tweede sterfte hou verband met sy vrou. Hy sê:

“My vrou is vanoggend so rondom 03:00 oorlede. Op 14 Maart was ons dogter by ‘n troue by Jan Kemp(dorp) waar ‘n persoon positief was vir die Koronavirus en het by ‘n tafel langs hulle gesit. Annetjie het verlede week so effens siek gewees en Maandagmore weer, en gistermiddag het sy my gebel en gesê sy voel nie lekker nie en toe ek hier by die huis kom, toe sien ek in watter toestand sy is, waarna ek my gehaas het na Kimberley toe saam met my dogter, na die hospitaal toe waar sy opgeneem is en in isolasie geplaas is, en gisteraand net na 9 het hulle haar op ‘n ventilator gesit om haar oor te skuif na ‘n isolasiefasiliteit by die Kimberley-hospitaal, maar daarna het haar toestand baie verswak en vanoggend 3 uur het die suster my met die slegte nuus gebel.

“Ek sal dit baie waardeer as julle vir my en saam met my kan bid vir berusting. Ek is ‘n kind van God, ek weet Hy sal my hierdeur lei. Ek weet ons kinders sal ook hierdeur kom maar die aanslae van buite is maar hoog. Julle is ook kinders van die Here en julle weet wat om nou te doen.”

(Volgens Netwerk24 was mev. Carsten se aanvanklike korona-toets negatief, dus is dit nie 100% bevestig dat sy wel daaraan gesterf het nie. Die presiese oorsaak van dood sal deur ‘n lykskouing bepaal word).

VAALWEEKBLAD SE OPREGTE MEEGEVOEL AAN DIE GESINNE VAN DIE OORLEDENES. EN BAIE STERKTE AAN ALMAL WAT REEDS DEUR DIE VIRUS BESMET IS. WEES VEILIG.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button