Wanbestuur + Korrupsie = Rommelstatus
"Moody’s se afgradering van Suid-Afrika na rommelstatus kon nie op ʼn slegter tyd gekom het nie, maar dit was lank reeds te wagte vanweë die ANC-regering se jarelange wanbestuur en ʼn gebrek aan dissipline onderliggend aan ʼn afbrekende ekonomiese beleid," het Wouter Wessels, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder: Finansies, gister in 'n persverklaring gesê.

“Daar is toegelaat dat staatsentiteite weens korrupsie, wanbestuur en plundering, veral in die tyd van staatskaping, tot bankrotskap gedryf is. Dit was die hoofrede agter Moody’s se besluit. Moody’s noem gebrekkige kragvoorsiening en die feit dat dit jare sal duur om Eskom se funksionering te herstel, pertinent as een van die redes vir die afgradering.
“Die besluit was nie te wyte aan die huidige omstandighede in Suid-Afrika vanweë korona wat ʼn negatiewe effek op die globale ekonomie het nie.
“Februarie se begroting van die minister van finansies, Titi Mboweni, kan nie realiseer nie aangesien dit gegrond is op aannames en projeksies wat gemaak is voor die uitwerking van korona en die afgradering van Moody’s. ʼn Nuwe begroting sal daarom by die eerste geleentheid ter tafel gelê moet word na die huidige inperking.
“Moody’s wys daarop dat die nodige strukturele hervorming vir ekonomiese groei nie plaasvind nie. Dit sluit in stappe om staatskuld te beperk. Die huidige vooruitskatting is dat die land se staatskuld 91% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) gaan uitmaak teen 2023. Dit is buite beheer en onvolhoubaar en met die afgradering gaan dit selfs moeiliker word om die skuld te finansier aangesien die rentekoerse minder gunstig sal wees. Dit skep krisis op krisis.
Wessels beklemtoon dit verder dat daar onder die huidige omstandighede nie meer ʼn kans is dat die ekonomie kan groei nie. Die land is reeds in ʼn tegniese resessie met groeiende werkloosheid en die afgradering, samelopend met die uitwerking van korona, voorspel niks goed vir die toekoms nie.
“Dit maak dit nou van die allergrootste belang om ingrypende veranderings te maak om dissipline te verbeter. Strukturele hervormings is onontbeerlik om staatsentiteite te omvorm sodat dit nie langer ʼn las vir die staat is nie.
“Die VF Plus hou steeds vol dat privatisering van staatsentiteite jare gelede reeds moes plaasvind,” sluit hy af.



