Local newsNewsNews

So lyk dit in Vanderbijlpark tydens inperking!

VANDERBIJLPARK. - Dit lyk of daar 'n reuse-uitverkoping aan die gang is! Daar is geen teken van sosiale distansiëring nie. Dit wil voorkom of baie van die Vaal se inwoners nog nie die erns van Covid-19 besef nie.

Dit is grotendeels te danke aan die Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (SASSA) se besluit om uitbetalings vir April reeds op 30 Maart te begin, in ‘n poging om die opeenhoping van mense by SASSA-uitbetalingspunte tot die minimum te beperk. Betalings op die eerste twee dae (30 en 31 Maart) sal slegs geld vir bejaardes en mense met gestremdhede. Alle ander toelaes, soos kinderonderhoud, sal eers vanaf 1 April ingevorder kan word.

Behalwe vir die horde mense wat teenaan mekaar in die rye vir hul toelae wag, veral by die poskantoor in die middedorp, was daar ook baie ander bedrywighede in die dorp.

By Checkers Hyper, asook die nuwe Checkers naby die taxi-rank in die dorp, het die mense ook in rye gewag om ‘n kans te kry om inkopies te doen. Dit was egter baie kommerwekkend en hartseer om te sien hoe daar in die lang ry, selfs bejaarde inwoners geduldig moes wag. By die onderskeie banke in die dorp was dit dieselfde prentjie, so ook by apteke – rye mense dig bymekaar. Daar was darem heelwat mense wat wel maskers en handskoene aangehad het.

In kort, baie winkels se deure is wel gesluit, maar niemand sal dink dat die staat ‘n 21-dag inperkingperiode aangekondig het nie.

By die Vanderbijpark Poskantoor in die middedorp wag mense in ‘n lang ry wat reg rondom die blok strek vir hul SASSA-geld. Foto: Elsje Vermeulen
Nog ‘n lang ry voor ‘n apteek in die dorp. Foto: Elsje Vermeulen
By Checkers Hyper in Vanderbijlpark moes bejaardes ook maar geduldig in die lang ry wag. Foto: Elsje Vermeulen
Die dame het eenkant gestaan en wag nadat sy klaar haar inkopies gedoen het. Foto: Elsje Vermeulen

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button