Hy is ‘n leerling by Eureka Skool en het deur die jare al verskeie trofees, sertifikate en medaljes verower. Onlangs was hy deel van die skool se span wat teen ander skole vir fisieke en intellektueel gestremdes aan die Somer Spele by die Lettie Fouche Skool in Bloemfontein deelgeneem het.
By die spele het Duvan twee goue medaljes vir atletiek en drie vir swem ingepalm. “Dit was vir vryslag, borsslag en rugslag, en gewigstoot en hardloop” antwoord hy toe ek sy ma vra. Hy is baie lief vir sport en het in 2017 Sedibeng kleure vir skaak verwerf. Op die vraag watter sport is sy gunsteling, het swem net met ‘n kortkop gewen, want in die agtergrond kon ek duidelik hoor hoe hy sy ma drie keer vertel, “Swem, maar ek is lief vir sport.”
Mirna sê Duvan is al van 2012 in Eureka Skool waar hy uit die staanspoor aan sport begin deelneem het. “Down Sindroom kinders het ‘n groot verbeelding en toe hy my die eerste keer vertel van al die medaljes wat hy gewen het, het ek gedink dis weer een van sy vele verbeeldingsvlugte. Groot was my verbasing toe hy met die medaljes by die huis aankom. Ons is baie trots op hom,” vertel sy.
Die spele, wat elke jaar by ‘n ander skool in die land aangebied word, is vir Duvan ‘n groot lekkerte en ‘n byeenkoms waar hy goed prestreer. In 2017 is hy gekroon as Beste Junior Downs Seun vir atletiek. ‘n Prestasie wat hy in 2018 en 2019 opgevolg het met die toekenings vir Uitstaande Sportprestasie en Beste Downs Swemmer.
‘n Ander sport hoogtepunt is die Downsindroom Vereniging se atletiekbyeenkoms wat rondom September elke jaar in Pretoria gehou word. Mirna sê hierdie is ‘n geleentheid wat hulle nooit mis nie. Sy skryf Duvan elke jaar individueel in en die afgelope twee jaar het hy al 9 medaljes daar gewen. Hy neem aan alles deel van spiesgooi en verspring tot by die naellope.
Duvan maak volgende jaar klaar met skool, dan gaan hy as klas assistent opgelei word sodat hy amptelik vir Chalkboard Champs kan werk. Sy ma sê hy help alreeds vir haar en Nadya Rabe baie om in die middae na die kinders te kyk. Hy is haar regterhand en is altyd doenig in en om die huis. “Houtwerk. Ek is goed daarmee” hoor ek Duvan se stem weer in die agtergrond. Sy ma sê hy is ook baie kunstig en ‘n kranige kok. “Almal weet hy is die braaibroodjie koning in die familie.”
Die nasionale inperkingstydperk is vir hom baie swaar, want hy hou baie daarvan om drukkies uit te deel en sosiaal te verkeer. Sy oupa is sy groot held en sy hart is seer oor die kuier verbod. Gelukkig kan hy darem elke dag met hom oor die foon gesels.
“Sê vir haar ek maak die lekkerste koffie” hoor ek vir oulaas toe ek groet. Ek is spyt ek kan nie dadelik sy koffie gaan probeer nie, maar sodra die inperkingstyd verby is, gaan ek beslis hierdie sportman self ontmoet en hom sommer ‘n groot druk ook gee.



