Vanderbijlpark: SASSA-punte en winkels steeds druk besig
VANDERBIJLPARK. – Dit is die tweede dag van SASSA se vervroegde betalings aan bejaardes en gestremdes en oral wemel dit nog van mense. Hoewel daar begrip is dat mense hul geld nodig het om kos en ander items te koop vir die 21-dae inperking, moet hulle steeds hul gesondheid en die van ander in gedagte hou.
Die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (SASSA) se uitbetalings vir April het gister begin in ‘n poging om die opeenhoping van mense by SASSA-uitbetalingspunte tot die minimum te beperk. Dit was duidelik nie suksesvol nie, aangesien daar oral rye mense teenaan mekaar staan. By die meeste punte is daar geen teken van sosiale distansiëring nie.
Vandag gaan die betalings voort, maar dit is veronderstel om slegs te geld vir bejaardes en mense met gestremdhede. Alle ander toelaes, soos kinderonderhoud, sal eers vanaf 1 April ingevorder kan word. Dit sal waarskynlik nog lang rye mense tot gevolg hê.
Daar was wel baie plekke in die Vaal waar ekstra moeite gedoen is om distansiëring te probeer implimenteer, en daar was ook baie mense wat hulself probeer beskerm het deur maskers en handskoene te dra.
By die meeste winkels was dit dieselfde prentjie as gister: geduldig staan en wag in die lang ry totdat jy ‘n kans kry om inkopies te doen.







