Die inperkingstyd bring vir almal frustrasies mee, maar vir Chris en Mary Bester van Vanderbijlpark is die aanpassing waarskynlik groter as vir die res van ons. Chris (24) en Mary (74) sê egter die ouderdomsverskil van 50 jaar is die minste van hul struikelblokke.
Dié verliefde paartjie sou nou vir hul wittebrood op Amanzimtoti se wit strande gestap het, was dit nie vir die inperking nie. Nou sit die duifies maar liefderyk vir mekaar en koer op Mary se agterstoep in Vanderbijlpark. Hulle sou Saterdag, 28 Maart ‘n behoorlike kerktroue kompleet met ‘n trourok, blomme, hope eetgoed, musiek en ‘n dans gehad het, maar toe kom krap die Corona-virus mos almal se planne deurmekaar. Soos baie paartjies wie se troue in dié tyd sou plaasvind, moes Mary en Chris ook inderhaas nuwe troureëlings tref.
Die Besters is toe Donderdagmiddag, enkele ure voordat die inperking om middernag begin het, in ds. Vaatjie Naudé se gemeente hoër op in die straat, getroud. In plaas van die 130 genooide gaste was daar toe net ds. Vaatjie, die huwelikspaartjie en 2 getuies in die konsistorie. “Ons wou geen kanse met die virus vat nie,” sê Mary, wat nou ‘n waardevolle diamantring wat Chris van sy ouma geërf het, aan haar ringvinger dra.
Chris en Mary het sedert hul troue nog niemand gesien nie – net Mary se kleindogter, wat langsaan woon en elke dag oor die heining hallo sê (en gister die meegaande foto’s geneem het).
Die jonggetroudes het gister in ‘n Skype-onderhoud aan Vaalweekblad vertel hoe hulle ontmoet het: Chris, wat saam met Mary se kleinseun in Vanderbijlpark op skool was, het as kind gereeld saamgekuier en oorgeslaap by “Ouma Mary” se huis. Sy was in daardie stadium reeds dekades lank alleen en haar lewe het om die kleingoed gedraai. Sy het geen kans laat verbygaan om groot groepe maats met boerekos, koekies, pannekoek, poeding en ander heerlikhede uit haar familie-resepteboek te bederf nie. Sy was die een wat hulle as klein seuntjies gebad het, gehelp het met skooltake en wiskunde, leer fietsry het, nerf-af knieë verbind het en later ook pleisters op seer harte geplak het as ‘n eerste liefde skeefloop. Soos wat hulle ouer geword het, het die jongklomp steeds verkies om naweke in dié jonk-van-gees ouma se tuin saam met haar ‘n biertjie te drink en te swem, of in haar voorhuis na sport op TV te kyk.
Hoewel Chris die afgelope jare ‘n paar romanses met jong meisies gehad het, wou sy liefdeslewe net nooit mooi vlamvat nie. Dit was vir hom baie lekkerder om voetjie-voetjie met Ouma Mary te speel. Sy was ook nie links nie en het net so lekker begin saamspeel. Wanneer hy haar vir ‘n rit op sy motorfiets kom haal het, het sy haar leerbroek en -baadjie aangetrek en dalk bietjie stywer as wat nodig was, aan sy soepel lyf vasgehou. Naweke kon jy hulle gereeld langs die Vaaldam of die Vaalrivier se viswaters aantref . Mettertyd het hulle onafskeidbaar begin raak en die liefde het begin blom.
Mary het Chris se “Mooie Maria” geword en sy noem hom “my Boerewors Bester”….. omdat hy so bedrewe is by die braaier en “omdat hy so goed kan vuur stook”, sê Mary met ‘n knip-oog. Sy het nog altyd ‘n oog vir ‘n aantreklike jong man gehad en het deur die jare al menige ouer minnaar die deur gewys omdat sy net oë gehad het vir dié jong knaap.
En mense wat dink dié twee se liefde gaan dalk net oor geld, kan maar weer dink. Mary is welgesteld, met twee familieplase in die Oos-Transvaal op haar naam. Chris het al 4 jaar lank sy eie suksesvolle loodgietersonderneming waar hy genoeg geld maak om vir vier veeleisende vroue te sorg, sê Mary. Nie dat sy ander vroue in sy lewe sal duld nie…. “Hy mag maar na die menu kyk, maar hy eet by die huis,” sê sy ferm. Dis ‘n reëling waarmee Chris hoogs tevrede is. “Hoekom sal ek wil rondkyk? Ek bly in die paradys. Ek verruil dit vir niks,” sê hy.
En waarmee hou hulle hulself besig gedurende die inperking?
“Ons is nie een oomblik verveeld nie,” sê Chris. “Bedags werk ek aan my motorfiets of diens die grassnyer terwyl Maria bier en pannekoek aandra, of ons maak die huis mooi want ons wil na die lockdown gereeld ons vriende hier onthaal. In die middae speel ons paaltennis, bordspeletjies of wegkruipertjie. Die wenner kry ‘n 30 minute body massage. Maria laat my heeltyd wen want sy is mal daaroor om my te vertroetel. Maar ek sorg dat sy ook gereeld ‘n beurt kry.
“In die aand braai ons vleis, ons drink ons trousjampanje waarvan daar nog 10 bokse in die motorhuis staan, ons dans en dink allerhande lekker nuwe speletjies vir die res van die aand uit. My Maria het meer energie as tien jong meisies saam!” sê hy trots.
Chris sê die skinderstories dat hulle “afwykend” is en deel van ‘n plaaslike swingers-klub is, is absoluut onwaar. “Die naaste wat ons aan “swing” kom, is die kinderswaai in die agterplaas. Maar dit is net daar vir Maria se 8 agterkleinkinders. Ons het nog nie self daarop gespeel nie, maar as die lockdown lank genoeg aanhou en ons het nie meer idees vir nuwe speletjies nie, gaan ons dit beslis probeer….”.




