NewsNews

Woordfontein vloei weer

VANDERBIJLPARK.- Naomi Maree het in Oktober 2019 haar 80ste verjaarsdag gevier. Haar grootste verjaarsdagwens was om weer ‘n boek te kan skryf en so haar passie te herontdek.

Die buiteblad van die gedrukte weergawe van Genoeg is Genoeg Foto: Verskaf

Van jongs af het die verhale uit haar ryk verbeelding gevloei. Sy het net geweet sy moes skryf en in 1968 is haar eerste kortverhaal gepubliseer. Daarna het 23 boeke, baie kortverhale, artikels, vervolgverhale en radiodramas gevolg.

Haar boeke het die leser weggevoer na ander eras in Suid-Afrika se kleurryke geskiedenis, van die Ou Kaapse verhale, deur die Groot Trek tot by die Tweede Vryheidsoorlog.

Die meeste van hierdie stories het baie navorsing geverg. “Daardie jare was dit nie so maklik soos vandag nie. Ek en my kinders het ure in die biblioteek deurgebring en baie boeke deurgewerk. Ek onthou ek moes eenkeer sewe boeke deurlees net om een paragraaf met gesag te kon skryf”, glimlag sy. Haar jongste dogter, Erika sê sy het nog êrens ‘n tydskrif van 49 jaar gelede waar haar ma gesê het sy sit en tik terwyl haar jongste baba (Erika was toe 3 maande oud) langs haar lê.

“Die storie ideës het vanself gekom, gewoonlik in die nag. Ek kon ‘n hele storie uitdink so tussen slaap en wakker wees, maar baie maal het ek die storie vergeet as ek in die oggend wakker word. Ander kere het ek alles onthou en dan het die woorde gevloei. Navorsing vir ‘n boek het lank gevat, maar as ek eers met die storie begin het, kon ek maklik ‘n boek in twee weke klaar skryf,” vertel sy met vonkelende oë.

Vir ‘n oomblik raak sy ingedagte en lê die skrywershande stil op haar skoot. “Ek het ‘n ligte beroerte gehad en daarna was die woorde weg” sê sy. “Dit was asof iemand ingebreek het en my woorde gesteel het”. Die skrywer kon nie meer onthou nie. Kon nie meer skryf nie.

“Ek wou weer skryf” verduidelik sy. “Ek het besluit ek wil op 80 my laaste boek uitgee en daarom het ek gebid dat my woorde sal terugkom. Skielik een oggend was die woorde terug. “Ek het ‘n storie wat ek donkiejare terug begin en gelos het weer nadergetrek. Ek het die begin verander, gedeeltes oorgedoen, gecut en gepaste en toe is die storie klaar,” beduie sy en die vonkel is terug in haar oë.

Erika lag oor haar ma so van copy en paste praat. “Vir ‘n 80-jarige is sy tegnologies goed gevorderd. My ma doen al haar navorsing self op Google. Sy het haar eie iPad en kom baie goed reg met haar persoonlike facebook blad.”

Die internet het haar baie gehelp om navorsing te doen vir haar nuwe boek, Genoeg is Genoeg. In die boek raak sy ‘n handvol van Suid-Afrika se hedendaagse kwessies aan, van geweld teen vroue tot by MIV/Vigs, kindersorg en armoede. Die boek is op 8 Maart aanlyn geloods en is as e-boek beskikbaar op Amazon en ander elektroniese platforms. Dit behoort ook in die nabye toekoms in gedrukte vorm beskikbaar te wees. Verdere goeie nuus is dat verskeie van Naomi se vorige boeke ook een van die dae weer herdruk sal word.

Was Genoeg is Genoeg nou regtig haar laaste storie? Nooit! “Die fonteintjie vloei weer. Ek is besig om aan drie ander te werk” verklaar sy beslis, maar wil nog nie verklap waaroor die nuwe stories gaan nie. Die beste is om haar amptelike facebookblad, @AfrikaanseStories te gaan volg om op hoogte te bly van nuwe boeke en stories.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button