NewsNews

Op ‘n ligter noot: ‘Eenoog-bright-mobiel’

Annette Willemse is die skrywer van LIEWE PERSOON - hierdie berig is op 'n ligter noot geskryf en sal lesers so biejtie ontvlugting van al die huidige en negatiewe gebeure bied.

Die skrif is jou waarlik aan die muur…en ek is nou, meer as ooit tevore, oortuig dat die wêreld op sy kop gedraai is! Alles is deurmekaar en confused…
So ry ek onlangs na my ma-hulle toe vir die naweek. Dit is al skerp skemer toe ek die afdraaipad Potch toe vat. Ek moet stop vir ‘n aankomende kar … dié het net een lig wat werk en die is natuurlik op bright … hoe anders? Maar net daar kry ek die skok van my lewe toe ek sien dat die eenoog-bright-mobiel ‘n splinternuwe Porche is!! Om die waarheid te sê, ek was so gerattle dat ek sommer in derde-rat probeer wegtrek het.
Ek vra jou met trane in my oë: wanneer het dinge so deurmekaar, agterstevoor en onderstebo geraak? Hoe kan ‘n Porche – en ‘n nuwe daarby, net een lig hê? Dis ongehoord. Dis net plain and simple – out of character!
Ironies genoeg, op daardie oomblik blêr Koos Kombuis en Karin Zoid se “Onder in my whiskey-glas” oor Vlam se radio. …“three ships het uit my hart gevaar. ..” , en ek kan nie anders as om terug te dink aan vroeër jare se dinge nie. En ek verlang na ‘n tyd wat sonder complications was.
Aan ‘n tyd toe Porches net op die TV gepronk het en net beskore was vir mense soos Sol Kerzner. Toe ons na mixed tapes geluister het en scrunchies in ons hare gedra het. ‘n Tyd toe Madonna-socks en mood rings ‘n rave was.
Onthou jy, liewe Persoon, hoe ek en die Juffrou so eenbeen-eenbeen rolskaats gery het? Die rolskaatse het aan ons ousus behoort – hulle was blou en geel met rooi wiele, en het ‘n ongekende bekoring vir ons ingehou. Maar hoe gemaak as daar net een stel skaatse is (wat boonop nog myle te groot was) en twee paar tweelingbene?
Maklik.
Ek het die regterskaats aangetrek en die Juffrou die linkerskaats…dan het ons bymekaar ingehaak …die ekstra regter- en linkerbeen opgetrek (amper soos met tweebeen-resies)…en dan het ons “geskaats”. As ek nou daaraan dink moes dit nogal ‘n affêre gewees het om te aanskou… Vandag sou mense wonder oor jou sanity as jy met net een rolskaats aan probeer om oor die weg kom! Maar toe was die enigste bekommernis om nie in die skaatse deur ousus betrap te word nie (wat moeilik was, want ons het daai skaatse se tone nerf-af geval)!
Daai eenoog Porche en Koos Kombuis het my diep geroer …en my net (weer) intens bewus gemaak van hoe beroerd dinge deesdae is…Verbeel jou – ‘n Porche met net een lig!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button