Polisie maak fabriek in Meyerton toe, eienaar wil saak verder vat
MEYERTON. – Die eienaar van ’n fabriek wat sakke vervaardig, wil die saak verder vat nadat lede van die polisie Maandag, 30 Maart sy fabriek gesluit en sewentien van sy werknemers, insluitend ’n voorman, in hegtenis geneem het. Dit volg nadat produksie by Trio Bulk Bags in Meyerton voortgegaan het, ten spyte van die nasionale …
MEYERTON. – Die eienaar van ’n fabriek wat sakke vervaardig, wil die saak verder vat nadat lede van die polisie Maandag, 30 Maart sy fabriek gesluit en sewentien van sy werknemers, insluitend ’n voorman, in hegtenis geneem het.
Dit volg nadat produksie by Trio Bulk Bags in Meyerton voortgegaan het, ten spyte van die nasionale staat van inperking wat op 27 Maart in weking getree het en tot 16 April sal voortduur.
James Williams, eienaar van Trio Bulk Bags, vertel dat swaargewapende lede van die polisie met agt voertuie op sy sakeperseel in Hoystraat toegesak en mense links en regs in hegtenis geneem het.
Williams vertel ook dat die voorman van sy fabriek, Shaun Bekker, oornag in die polisieselle aangehou is.
Williams se regsverteenwoordiger, Norman Wessels van die regsfirma Wessels en Vorster Ingelyf, sê in ’n skrywe aan die areakommissaris van Sedibeng en stasiekommissaris van Meyerton die saak is nooit op die hofrol geplaas nie en Bekker is later vrygelaat.
Williams meen die arrestasies was heeltemal onwettig en dat hy permitte het wat hom toelaat om met besigheid voort te gaan, aangesien die onderneming ’n noodsaaklike diens lewer.
Williams verduidelik dat sy onderneming sakke vir graan en kunsmis vervaardig wat in die produksie van voedsel gebruik word.
Volgens Williams was die polisie nie geïnteresseerd om na sy permitte te kyk wat bewys dat hy ’n noodsaaklike diens lewer nie. Volgens hom het hy 50 werknemers waarvan 18 vrywilliglik in die fabriek werk gedurende die inperking.
“Al 18 het hul name opgesit en permitte is bekom wat deur die polisie gestempel en geteken is. Op Vrydag 27 Maart is my permit om voort te gaan met bedrywighede by die fabriek ook deur die Komissie vir Maatskappye en Intellektuele Eindom goedgekeur.”
Navrae is verlede week aan brig. Vishnu Naidoo, ’n woordvoerder van die polisie se nasionale hoofkantoor, gestuur. Kommentaar was teen saktyd nie beskikbaar nie.
Volgens Williams is die fabriek Woensdag 1 April heropen en gaan bedrywighede daar voort.






