NewsNews

Vaalie geniet dit nog in België

Shani Botha (18) van Vanderbijlpark is tans in België as een van die Rotary Klub van Vanderbijlpark se uitruilstudente. Ten spyte van die wêreldwye korona pandemie bly sy positief en kan nie uitgepraat raak oor haar avonture tot dusver nie.

België trek swaar weens die virus en baie streng maatreëls en beperkings geld op die oomblik. In ‘n elektroniese onderhoud het Shani gesê dat sy as ‘n uitruilstudent glad nie by die huis mag uitgaan nie.

Sy wil egter ook almal gerusstel. “Selfs met al die nuwe beperkings en die risiko’s, voel ek steeds veilig en maak ek die beste van die situasie. Ek weet dis baie veiliger in hierdie huis as wat dit sal wees om huis toe te gaan. Dis hoekom ek en my gesin besluit het dat ek onder geen omstandighede nou sal terug gaan huis toe nie.” Shani is ‘n langtermyn uitruilstudent wat in Januarie 2021 sal terugkeer Suid-Afrika toe

Voordat die inperkingsreëls haar aan bande gelê het, het sy vele plekke besoek en nuwe dinge ervaar. Van die hoogtepunte het ‘n uitstappie na die Atomium, ‘n toer deur  ‘n bekende sjokolade fabriek,  en besoeke aan vele kloosters en katedrale ingesluit. Dan was daar die verskillende streke se wafels (gaufre), die bier, kaas, slapchips (frites) en Andalous sous… “Daar is dinge wat ek nie sonder sal kan lewe nie, soos die Andalous sous en dan is daar dinge wat ek eerder in België sal los, soos die witloof plant…”

Shani beskryf die hele ervaring as ‘n sprokiesverhaal.  “Die kos is hemels. Alles is anders hier, van die argitektuur tot by die kultuur en die tale. Een ding waaraan ek gewoond moes raak is die manier van groet. ‘n Goeie wenk, moenie probeer om ‘n  Belg ‘n drukkie te gee nie. Ons soen mekaar op die wang –  vriende, kollegas, man en vrou, man en man, vrou en vrou. Dis hoe ons dit doen. (Of dit was die manier voordat die Koronavirus toegeslaan het.) Om Frans te leer is nie een van die maklikste dinge wat ek al gedoen het nie, maar ek kom daar.”

Voordat die beperkings in werking gestel is, was haar dae gevul met onder andere skoolgaan, inkopies en Franse klasse. Die skool wat sy bygewoon het was in ‘n ander dorp. So sy moes vroeg opstaan om betyds by die stasie te wees vir ‘n treinrit van 20 minute en dan nog ‘n verdere 15 minute se stap tot by die skool. Elke skooldag het tot 16:45 gestrek.

Op die oomblik lyk haar dae heelwat anders. Sy hou haar besig met stiltetyd, Franse klasse (wat haar Belgiese “sussie” vir haar aanbied), oefen, oproepe, e-eposse, teken en joernaal inskrywings.

Ten spyte van die huidige situasie sê sy: “Daar is niks wat ek anders sou wou doen nie. Die ervaring het baie kronkels en hobbels, maar dis nogsteeds deel van die ervaring daarvan. België is ‘n belewenis, ryk in kultuur en vriendelike mense. 10/10! As jy ooit die kans kry om die land te kan besoek, doen dit. Jy sal glad nie spyt wees nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Related Articles

 
Back to top button